Teine teen Roshnee reën uit
Reën verhoed dat Teine hul laaste kragmeting van die liga op 'n wennoot afsluit.
Randfontein se Premier krieketspan het die afgelope Sondag hul seisoen met ‘n gelykopuitslag teen Roshnee Krieketklub afgesluit.
Sondag het gelyk na ‘n belowende dag vir krieket, met net ‘n koue windjie en ‘n paar wolke in die lug.
‘n Verdwaalde reënwolk het toe later die middag egter die wedstryd tussen Teine en Roshnee beëindig.
Teine het die wedstryd net as ‘n formaliteit beskou, aangesien die span heel bo aan die liga is.
Roshnee het Teine ingestuur om eerste te kolf nadat hulle die loot gewen het.
Teine se openingkolwers, die witwarm Terrence Byrne en Christiaan Makowlofski het Roshnee in die eerste 20 boulbeurte laat bontstaan met ‘n vennootskap van 106 – Terrence met 76 en Christian met 30.
Roshnee se bouler Rizwan Hafeji het toe besluit genoeg is genoeg en sy span hoop gegee toe hy vyf paaltjies geneem het.
Teine is uiteindelik almal vir 197 uitgeboul.
Met Roshnee op ‘n sukkelende 33 lopies vir drie het die reën gekom en die kragmeting is as gelykop verklaar.




