Voormalige Protea-hokkiespeler maak Jannas touwys
Na 'n besoek aan Camp Discovery en 'n hokkiekliniek op Hoërskool Jan Viljoen se sportgronde, is dié skool se hokkiespelers uiteindelik gereed vir die seisoen.

Winterskolesport is volstoom aan die gang en Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) se eerstehokkiespan is reg vir ‘n strawwe seisoen.
Volgens Michelle Myburgh, hokkie-organiseerder by Jannas, oefen die eerstehokkiespan baie hard om 2019 een vir die boeke te maak. Hulle het 26 tot 29 Maart ‘n hokkiekamp by Camp Discovery bygewoon waar Sheldon Rostron, ‘n voormalige Protea-afrigter, hulle touwys gemaak het.
“Die hokkiespelers het aan baie aktiwiteite deelgeneem en die afrigting by die kamp was van uitmuntende gehalte. Hulle het daagliks minstens twee wedstryde gespeel en slegs een wedstryd verloor,” het sy gesê.
Sy het gesê dat dit ‘n baie leersame ervaring was en dat dit die spelers goed voorberei het vir vanjaar se hokkieseisoen.
Jannas is ook besig om hul ander hokkiespelers gereed te kry vir die seisoen.
Michelle het gesê dat aangesien ‘n hokkietoer baie duur is, het hulle besluit om ‘n tweedae-kliniek saam met Naomi van Wyk, Chantelle Ras en Chantelle Hotzerhof op die skool se sportgronde te hou sodat almal daarby kon baat. “Die eerstespan kon dit ongelukkig nie bywoon nie, maar die res van die skool se hokkiespelers kon baie daaruit leer,” het sy gesê.
Die spelers het tydens die kliniek spanbou-oefeninge gedoen en ook nuwe tegnieke geleer.
Hulle het onlangs baie goed teen Randfontein High School en Hoërskool Wagpos gevaar en gaan binnekort teen Hoërskool Dinamika speel.




