Local sportSportUpdate

Vic Clapham-medalje vir dorp se Clement

Clement van der Merwe van Randfontein en RandMark se enigste lid by vanjaar se Comrades het die maraton voltooi en 'n Vic Clapham-medalje verower.

Een van Randfontein se eie, Clement van der Merwe, het sy tweede Comrades Maraton voltooi in ‘n tyd van 11 ure, 30 minute en 31 sekondes.

• Also read: Dijana wins back-to-back Comrades Marathon title

Die 32-jarige was ook RandMark se enigste lid by vanjaar se Ultimate Human Race en het saam met ongeveer 20 000 ander atlete by die beginpunt gestaan toe die kanon omstreeks 05:30 op 11 Junie afgegaan het.

“Dit het my ongeveer sewe minute gevat om net oor die beginstreep te kom as gevolg van al die ander hardlopers voor my.”

Sodra die tyd begin het, het almal 12 ure gehad om die resies te voltooi wat vanjaar van Pietermaritzburg na Durban gehardloop is.

Dit het nie sleg gegaan nie, maar toe ek oor die 50km merk gegaan het, het dit vir my begin moeilik raak. Dit was toe ‘n vasbyt-storie en waar jou deurdruk begin. Dit is alles in die kop.”

Volgens Clement is die moeilikste gedeelte die laaste 20km waar daar nog een groot bult voorlê en ‘n persoon se lyf dan al seer is.

• Lees ook: Clement slaggereed vir sy tweede Comrades

“Dit is ook moeilik om te eet want mens is so moeg en hou net jou gedagtes op die einde wat voorlê,” het Clement vertel.

Hy noem dat hy ‘n Vic Clapham-medalje ontvang het. Dié medalje word aan almal oorhandig wat die Comrades tussen 11 en 12 ure voltooi. Die spesifieke medalje is vernoem na die persoon wat Comrades in 1921 begin het en is ‘n lewende gedenkteken aan Vic se kamerade wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.

‘n Baie opgewonde Clement van der Merwe voor die wedren. Foto ingestuur.

In vergelyking met verlede jaar se resies het hy verduidelik dat albei maar hul verskeie uitdagings gehad het. Byvoorbeeld, verlede jaar het hy deurmekaar begin voel weens sy suikervlak wat begin val het. Vanjaar was sy suikervlak beter maar sy voete was baie seer teen die einde. Hy het nie geweet of dit beter is om te stap of draf teen daardie stadium nie.

“Ek is baie dankbaar om die wedren te kon voltooi na ‘n baie moeilike jaar in terme van my seer rug. Ek was ook siek kort voor die wedren.

Hierdie hele wedren vanjaar was net om klaar te maak en die dankbaarheid is wat dit vir my opsom. Ek sou dit ook nie kon doen sonder ons Hemelse Vader se krag wat my gedra deur die dag asook almal se ondersteuning nie.”

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button