Rachelle die Super-sportvrou
Rachelle du Plessis is ‘n sportvrou met vele talente en draf nie net uit vir die Bulls Daisies nie maar is ook ‘n motorsport-renjaer en CrossFit-liefhebber.
Rachelle du Plessis neem met ywer deel aan drie gewilde sportsoorte wat vrouerugby, motorsport en CrossFit insluit.
Sy pak al hierdie sportsoorte aan met groot entoesiasme en het onlangs ‘n inspirerende storie met die Randfontein Herald en gemeenskap gedeel.
Rachelle speel graag rugby vir die Bulls Daisies saam met ‘n span wat bestaan uit 12 Springbok-vrouespelers en ses Springbok-vrouesewespelers. Haar gunsteling deel van rugby as ‘n sport is die fisiese aspek. Die Bulls Daisies oefen elke dag van 09:00 tot 16:00 om hul doelwitte as vrouerugbyspan te bereik. Hulle is ook onlangs as die SA Rugby Vroue Premier-kampioene gekroon deur die Westelike Provinsie met 69–8 in die eindstryd te verslaan. Nie net was hulle onoorwonne nie maar spog die Bulls Daisies ook met wegholoorwinnings van 105–0 teen die Leeus, 107–3 teen die Haaie en 104–0 teen die Oostelike Provinsie.

Rachelle vertel verder dat sy ‘n klomp rolmodelle as inspirasie vir haar rugby-pelgrimstog beskou naamlik Eben Etzebeth, Pierre Spies en Os du Randt. Sy sê dat Schalk Burger ook ‘n groot invloed op haar rugbyloopbaan gehad het. Haar toekomsplanne in rugby sluit in om vir nog ‘n paar jaar die Bulls Daisies te verteenwoordig en beoog dan om vir die Springbok-vroue uit te draf tydens die 2025 Rugbywêreldbeker vir vroue.
“My motivering is eenvoudig en ek wil graag mense aanmoedig om hulle drome na te jaag, maak nie saak wat nie,” het Rachelle gesê.
Haar indrukwekkende talent hou nie op by rugby nie.
Die ander opwindende sport wat ‘n stormloop van adrenalien afskei vir Rachelle is natuurlik motorsport.
Volgens haar moet ‘n persoon eers by ‘n klub aansluit voordat jy aan groot wedrenne kan deelneem. Daarna moet die renjaer ‘n lisensie uitneem. Rachelle sê verder dat daar een wedren elke maand opduik en die punte word bymekaargetel om so die kampioen te bepaal. Haar gunsteling deel van motorsport is die adrenalien wat pomp. Sy identifiseer ook haar pa, Roelf du Plessis, as haar rolmodel wat self naam maak in die motorsportwêreld.

“Ek wou nog altyd motorsport doen en wil in my pa se legendariese voetspore volg,” vertel Rachelle, alhoewel sy nie huidiglik ernstige toekomsdoelwitte vir motorsport het nie.
Bo en behalwe haar liefde vir motorsport, het Rachelle ‘n groot passie vir CrossFit. Rachelle het gestreef om iets soortgelyk aan militêre opleiding uit te leef. Dus is die intensiewe en fisiese arbeid wat CrossFit bied die perfekte geleentheid. Haar CrossFit inspirasie is Annie Thorisdotter. In 2020 het Rachelle die 25ste plek tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe behaal, iets waarop sy trots is.
“My grootste motivering is die feit dat God my geseën het met talente en die vermoë om dit te kan uitleef. Ek wil vir mense bewys dat as jy glo, is jy in staat om al jou drome bereik. Daar is nie ‘n limiet nie,” het Rachelle gesê.
Haar prestasies spreek boekdele en Rachelle is ‘n voorbeeld dat jy die vrugte kan pluk deur hard te werk.



