Sport

Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Janco Tiedt

Randfontein Rugbyklub se heelagter stel homself aan die gemeenskap in die Ontmoet-'n-Teine-Boytjie-reeks voor.

Janco Tiedt is nog ‘n toegewyde rugbyspeler van Randfontein Rugbyklub wat sy passie op die veld wil uitleef.

Die 31-jarige Janco is ‘n lojale lid van die rugbyklub al vir twee jaar. Sy rugbyloopbaan het op die vroeë ouderdom van vyf begin en het hy langs die rugbyveld grootgeword. Sy oupa en pa het gereeld rugby gespeel en daarom het Janco ‘n liefde daarvoor begin kweek.

Hy het as o12-, o13- en o16-speler vir die Goue Leeus uitgedraf en as o19-speler vir die Sharks. In 2014 het Janco vir UJ se eerste span rugby gespeel en het hy boonop Curriebeker-ervaring asook die Gold Cup gewen.

• Lees ook: Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Christo van Emmenis

Janco speel tans heelagter vir Teine se eerste span en will soos al sy spanmaats ‘n indruk maak in 2024.

Hul doelwit is om in die Pirates Groot Uitdaag-reeks te presteer en kompeterend te wees in elke wedstryd. Janco se gunsteling deel van rugby is die samesyn van die manne in, op en van die veld af.

“My grootste motivering is om bo gemiddeld te wees. Ek wil uitblink en my potensiaal uitleef,” het Janco vertel.

Vir Janco is dit van uiterste belang om altyd 100% van jou deursettingsvermoë te gebruik en ‘n goeie voorbeeld te wees.

Janco spandeer sy vrye tyd graag op familie en geniet spesiale oomblikke saam met sy vrou en vier kinders.

Related Articles

 
Back to top button