So naby, maar tog so ver vir Teine-seniors teen Wanderers
Randfontein Rugbyklub het hul voorseisoen op 'n middelmatige noot afgesluit teen Wanderers van Sandton.
Randfontein Rugbyklub het op 9 Maart weg van die huis af teen Wanderers van Sandton kragte gemeet. Dit was die plaaslike klub se laaste wedstryd van ‘n string vriendskaplik en promosie-kragmetings vanjaar voor die liga amptelik afskop.
Wat die goeie nuus aanbetref het Teine se juniors omtrent gewys wie’s baas.
Teine se o19’s spog eerstens met ‘n wegholsege van 47–0 met Deon Coetzee en Siphelo Ndarana wat albei twee drieë gedruk het. Verder het Keagan Taylor, Anele Mahlayeye en Hlumelo Mate elk een keer agter die opponent se doellyn gaan kuier. Keagan het verder ses doelskoppe oorgeklits en is te same met spanmaats Heinrich Albrecht en Linda Motshoeweg as spelers van die wedstryd aangewys.
Die o21’s moes bietjie harder werk vir hul oorwinning van 24–19. Vincenzo Visagie het geslaag met drie strafskoppe en een doelskop terwyl Simamkele Ngcutha en Dylan Harman die driedrukkers was. Spelers van die wedstryd was niemand anders as Junior Phalatse en Vincenzo nie.
Alhoewel hul mededingend was, moes al Teine se seniors ongelukkig die knie buig.
Die derde span het 25–16 verloor, die tweede span 41–36 en die eerste span 25–18.
Ten spyte dat dit nie ‘n goeie dag by die rugbykantoor was nie, het Teine intussen die wonderlike nuus ontvang dat hulle gekwalifiseer het om aan vanjaar se Pirates Groot Uitdaagreeks deel te neem.
Hou die spasie dop vir ‘n meer in-diepte artikel.



