Sionspoort maak wiele warm by 4×4-uitdaging
Hervormde Kerk Sionspoort se onlangse 4×4-uitdaging het groot aanslag onder die gemeenskap gemaak.
Die Hervormde Kerk Sionspoort se 4×4-uitdaging by Doornfontein in die Rodora-omgewing het baie mense gelok om stof op te skop.
Volgens mediabestuurder Appel Ernst bied die kerk jaarliks die gewilde deel van die Maxxis 4×4-reeks aan om die gemeente se fondse ’n hupstoot te gee. Vanjaar het die viertrek-entoesiaste weer met entoesiasme en passie deelgeneem.

Die uitdagende baan met nege hindernisse is elk deur Corrie Hudson uitgelê om deelnemers se vaardighede en ervaring deeglik te toets. Appel het genoem daar was meer as genoeg opwinding en aksie om kykgenot vir die toeskouers te verseker.

Sy het bygevoeg dat die kompetisie straf was en die volgende deelnemers het boaan die puntelys in hul onderskeie kategorieë geëindig:
Top Truck: Ayssel Mulder
Modified: Corrie Hudson
Standard: Jack Nel
Locker: Bun (van onbekend)
Pro Locker: Andries van Zyl
Standard Expert: Deon Wessels

“Die gesonde wedywering, goeie eet- en drinkgoed, en die fantastiese gees wat geheers het, het bygedra tot ’n heerlike dag uit,” het Appel uitgespreek.
“Onder die besienswaardighede was die pypkarre wat monde laat oophang het met hul vernuftige pogings tot duiselingwekkende hoeke. Die natuurlike skoonheid van die omgewing het bygedra tot ‘n dag wat lank onthou sal word.”

Sy het verder gesê dat die Sionspoort-gemeente almal bedank wat by die suksesvolle dag betrokke was en dankbaarheid teenoor God beklemtoon het.



