RandMark voltooi taai Lions Karoo to Coast Bergfietsuitdaging
Vyf lede van RandMark het 'n 100km bergfietsuitdaging voltooi en terselfdertyd Knysna beleef.
Vyf RandMark-fietsryers het verlede maand die taai Lions Karoo to Coast 100km-bergfietsuitdaging aangedurf.
Nico Smit, RandMark padfietsverteenwoordiger het verduidelik dat die wedren in Uniondale begin en in Knysna geëindig het. Die roete het oor die Prins Alfredpas en toe oor die Outeniekwaberge gestrek. Hulle het altesaam 1 700 m tydens die wedloop geklim.
“Die berge en passe was asemrowend mooi, iets wat ons Gautengers nie ken nie. Al vyf ruiters van RandMark het dit suksesvol voltooi.”

Tiaan Smit spog met ’n tyd van vier ure en 14 minute, Paul Kotze met ’n tyd van vier ure en 34 minute, Annamarie Jacobsz met ’n tyd van vier ure en 38 minute, Nico Smit met ’n tyd van ses ure en 10 minute en Malcolm Groenewald met ‘n tyd van ses ure en 18 minute.
Nico het bygevoeg dat die roete hom herinner aan die boek, Kringe in die Bos, deur Daleen Matthee, want hulle kon Gouna bos en Kom se pad (soos beskryf in die boek) beleef. Ná die 100km was Knysna en die Lagoon ‘n welkome gesig.
“Volgende jaar sal ons weer die pad aandurf Uniondale toe om die wedren te gaan ry,” het Nico opgewonde afgesluit.



