Duiweklubpresteerders vlieg hoog
Die Randfontein Resiesduifklub het die jaar op 'n hoë noot afgesluit deur elke lid vir hul uitstaande prestasie gedurende die jaar te beloon.
Randfontein Resiesduifklub (RRDK) het hul jaarlikse jaareindfunksie gehou om erkenning te gee aan presteerders.
“Soos enige ander sport vereis duiwe vlieg harde werk, toewyding en opofferings. Ons as klub het vanjaar ‘n jaareindfunksie gehou om elke lid se prestasies te vier. Ons sien selde die duiweboere se families gedurende die vliegseisoen maar ons is bewus daarvan dat sonder hul hulp en ondersteuning ons lede nie hul geliefde sport sou kon beoefen nie. Daarom het ons hierdie funksie gebruik as ‘n geleentheid om elke lid se familie te ontmoet en hulle te bedank vir hul toegewyde ondersteuning en bystand,” het Belinda Barkhuizen, klubwoordvoerder, gesê.
Sy het bygevoeg dat dit hul doel is om elke lid tydens die funksie raakgesien en waardeer te laat voel.
“Om daardie rede ontvang elkeen sy eie prestasieboek met hul sertifikate asook ‘n trofee. Ons grootste trots is ons junior lede,” het Belinda gesê.
Belinda wou ook die komitee, alle lede en hul gesinne namens die klub bedank vir vanjaar se sukses.
Voorheen het die jaareindfunksie net toppresteerders erken, maar met inagneming van die aantal duiweboere het hulle besluit om die norm te verander en elke boer erken vir hul harde werk.
“Hoewel ons toppresteerders steeds hul welverdiende toekennings ontvang, maak ons seker dit is ‘n inklusiewe sport en jaareindfunksie waar almal gewaardeer voel. Dit is vir ons lekker om elke lid se glimlag te sien wanneer hulle trofeë en sertifikate ontvang en dat hulle gemotiveerd is vir die komende seisoen. Ons hoop ook om nuwe lede te bekom.”
Volgens Belinda word die geleentheid gebruik om terselfdertyd Kersfees te vier.
“Dit was regtig gevul met liefde en respek want sonder ons Hemelse Vader sou dit nooit moontlik wees nie,” het Belinda gesê.
Sy het afgesluit deur te sê duiwevlieg is ‘n klein sport, maar ‘n lekker een.
“Hierdie is ‘n gemeenskap en elke klub is soos ‘n duiwefamilie. Ons as RRDK wil graag die lesers aanraai om hierdie sport te oorweeg. Hulle kan ons klub kontak en ons sal hulle graag verwelkom om te kom kyk hoekom ons klub die sport so baie geniet en ook om te sien hoe dit gedoen word.”
• Navrae: Kontak Coenie Barkhuizen, komiteelid, by 083 940 1395.