Haastige Roelf laat nie op hom wag nie
Ten spyte van die feit dat dit Roelf se eerste keer was wat op 'n kleibaan deelgeneem het, kon dit hom nie keer om weer die beker huis toe te neem nie.
Roelf du Plessis, ’n bekende op die renbaan, het onlangs met ’n trofee weggestap ná ’n impromptu deelname aan die Cowboy Cup.
• Lees ook: Plaaslike renjaer ontvang erkenning van private museum vir motorsport
Roelf het verduidelik dat hy beplan het om net op 22 Maart na die Cowboy Cup-wedren te kyk en van die bekendes daar te ontmoet toe hy oorreed is om self aan die wedloop deel te neem.
“Ek het nog nooit aan ‘n grondwedren deelgeneem nie. Dit was vir my ‘n groot verrassing toe ek gevra is om een van die motors te bestuur. Ek het nie die kar geken nie, ek het nog nooit so ‘n kar gery nie en ek het nie geoefen nie,” het Roelf gesê.
Hy het verduidelik dat dit ‘n 800m grondbaan was waarop hulle gejaag het en daar was 15 motors op die baan.
Ek wou eintlik net vir Dricus du Plessis ontmoet, wat ook deelgeneem het,” het Roelf gesê.
Hy het bygevoeg Danie van Heerden en Arno Jordaan was onder die ander bekendes wat daar was en het genoem hoe hy Arno ook een keer tydens ‘n groot wedren geklop het.

Roelf het gesê toe hy wegtrek, was hy bietjie haastig en het in Dricus se motor vasgery. Toe hy egter daarna om verskoning vra, het Dricus dit in goeie gees geneem.
In die tweede rondte het Roelf in die tweede plek gekom maar dit was die derde wedren wat hom die beker gewen het. Hy het ook weggestap met die Cowboy-hoed wat aan die algehele wenner oorhandig is.
Roelf het sy oorwinning toegeskryf aan al die tyd wat hy agter die stuur deurbring.
Ek neem al 40 jaar deel en ek glo dit was die ervaring wat my gehelp het om die wedloop te wen, al het ek nog nooit op grond meegeding nie.”
Roelf oefen nou vir sy volgende wedren wat op 5 April in Vereeniging plaasvind.



