Plaaslike renjaer ontvang erkenning van private museum vir motorsport
Na 40 jaar van motorsport is legende Roelf du Plessis nou deel van 'n privaat motorsportmuseum waar sy jarelange toewyding erken word.
Ná jare se resies om die renbaan het Roelf du Plessis (64) uiteindelik erkenning daarvoor van ’n motorsportmuseum in Benoni gekry.
Roelf het gesê sy loopbaan as renjaer het begin toe hy nog vir Ben Morgenrood gewerk het en oor die jare het hy reeds 280 trofeë op die renbaan ingesamel. Hy is ook in 1999, 2000 en 2001 as die V8 Supercar-kampioen aangewys. Hy doen nou al 40 jaar motorsport.
• Lees ook: Roelf steek motorsport-wêreld aan die brand
Na jare se harde werk het hy nou die voorreg om saam met baie ou legendes in hierdie privaat museum erken te word. Hy het genoem dat die enigste manier waarop ‘n persoon deel daarvan word, is om genooi te word.
Hy het gesê hy het sy resiespak aan die museum geskenk, asook sy Mazda.
Van die ander legendes wat ook in die museum erken word, sluit onder andere Ben, Ian Scheckter en Sarel van der Merwe in.
• Lees ook: ‘n Liefde vir motorsport bruis deur sy are
“Dit is vir my ’n absolute eer en voorreg om in die museum erken te word.”
Vir voornemende renjaers het Roelf gesê, “Dit is alles deursettingsvermoë. Dit gebeur nie oornag nie.”
Op 7 Desember neem hy deel aan die Ultimate Outlaws-wedloop in Vereeniging.



