Raiders sorg vir Teine se eerste liga-loesing
Randfontein Rugbyklub moes tevrede wees met slegs een oorwinning uit die vyf ligawedstryde teen Raiders in Johannesburg.
Teine se eerste span het hul eerste nederlaag van vanjaar se liga ervaar toe hulle weg van die huis af met ‘n telling van 29–26 teen Raiders vasgeval het.
• Lees ook: Teine 1ste span skop liga af met wegholoorwinning
Dit was ‘n lang dag op kantoor vir Teine met slegs die o19’s aan die wenkant by die Bill Jardine-stadion in Johannesburg waar die wedstryde plaasgevind het.
Met ‘n oorwinning van 27–24 het Teine se o19-span wel die dag op ‘n hoë noot begin. Driedrukkers was Dylan Jacobs, Samkelo Kgoathisi, Sibusiso Pitso en Anele Phungula met Zac Smith asook Zander Campher wat elk met ‘n doelskop geslaag het. Terry Bila is die Man van die Wedstryd.
Teine se o21-span het toe alles gegee, maar dit was nie goed genoeg vir ‘n 19–12-loesing nie. Teine se drieë is deur Kuster Mathyalana en Lisakhanya Kiviet gedruk terwyl Keagan Taylor suksesvol was met een doelskop. Wesley Nyariya is ook as Man van die Wedstryd aangewys.
Wat die seniors betref, was dit ook ‘n taai affêre met die derde span wat 8–0 verloor het. Teine se tweede span moes ook met hul hande op hul heupe staan toe die eindfluitjie blaas en het die telbord 24–15 gelees. Vir Teine het Eben Vorster en Zander Obertholzer elk ‘n drie gedruk met Manfred Eyssen wat ‘n doelskop en ‘n strafskop oorgeklits het. Eben was ook die Man van die Wedstryd.
Teine se eerste span, hoewel hulle tot op die einde hard geveg het vir ‘n oorwinning, het met drie punte verloor. Vier drieë is ook gedruk danksy Christo van Emmenis, Tiaan Muller, Franco Schutte en Michael Tolmay wat waardevol kan wees soos die liga aangaan. Janco Tiedt het ook drie doele geskop en Dylan Viviers is as Man van die Wedstryd aangewys.



