Randfontein Rugbyklub oorrompel Wanderers
Teine sal tevrede wees nadat hul vier uit ses ligawedstryde teen Wanderers Rugbyklub gewen het.
Randfontein Rugbyklub het hul teenstanders, Wanderers, ore aangesit tydens ’n onlangse ligawedstryd. Hoewel die vrouespan 22–0 verloor het, is daar baie om oor huis toe te skryf vir die mansspanne.
Die gees was hoog toe die o.19-span met ’n wegholsege van 64–5 spog. Dylan Jacobs, Vuyolwethu Gwenxane, Sam Kgoathisi, Sibusiso Pitso en Junaid Fortuin het elk een drie gedruk. Zander Campher het twee keer gaan druk, en Nhlanhla Sibisi het ’n uitstekende drie-tal behaal. Hy is ook as Man van die Wedstryd aangewys. Zac Smith het sewe doelskoppe oorgesit.
Die o.21-span het die momentum voortgesit en met 47–0 geseëvier. Aphiwe Melani het een drie gedruk, terwyl Oarabile Tlhatlhedi en Lisakhanya Kiviet elk drie keer gaan druk het. Keagan Taylor het ses doelskoppe behaal, en Nelson Ntshwaxu is as Man van die Wedstryd aangewys.
Met sterk ondersteuning vanaf die skare het die derde span vasgebyt en naelskraap 23–22 gewen. Desire Serelepele en Simphiwe Khumalo het elk een drie gedruk. Ewald Oberholzer het met een doelskop en vier strafskoppe geslaag. Antonie Saunderson is as Man van die Wedstryd aangewys.
Die tweede span het egter ’n nederlaag van 20–5 gely, met Eben Vorster wat die enigste drie van die span aangeteken het.
Die eerste span het die dag op ’n hoë noot afgesluit met ’n 38–21 oorwinning. Senzokhle Hlatshwayo, Franco Schutte, Mornè Piater, Brandon Viviers, Dylan Viviers en Errard Ernstig het elk een drie gedruk. Tiaan Naudé het vier doelskoppe oorgesit. Franco Schutte is as Man van die Wedstryd aangewys.
Randfontein Rugbyklub sal op 26 Julie teen die Universiteit van Johannesburg te staan kom.



