Teine se eerstes span die seile teen Pirates
Teine se eerste span het Pirates geklop en daarmee hul plek in die halfeindstryd van die Groot Uitdaagreeks verseker.
Randfontein Rugbyklub spog met plek in uitkloprondte
Greenhills — Randfontein Rugbyklub se eerste span het hul plek in die uitkloprondte van vanjaar se Pirates Groot Uitdaagreeks verseker ná ’n sege van 24–10 oor Pirates die afgelope naweek.
Wie hul opponente in die halfeindstryd gaan wees, moet nog bepaal word. Volgens klubwoordvoerder Lulu Kleyn is die presiese datum vir die wedstryde ook nog nie vasgestel nie.
Vir nou is dit egter fees by Teine.
Op die veld het Johan Swart, Dylan Viviers, Jacqone de Villiers en Michael Tolmay elk ’n drie gedruk. Keagan Fortune het twee doelskoppe oorgeklits, terwyl Franco Schutte en Tolmay as Manne van die Wedstryd aangewys is.
Teine se tweede span het ongelukkig met 28–0 teen Pirates vasgeval. Alhoewel geen speler punte aangeteken het nie, is Steff Calitz as Speler van die Week benoem.
Die derde span het Pirates 33–19 geklop danksy drieë deur Quintin Korb, Simphiwe Khumalo, Theo Calitz, Eugene Willemse en Desire Serelepele. Oberholzer het een doelskop geslaag en Calitz drie. Willemse is as Man van die Wedstryd bekroon.
Pirates te sterk vir Teine se juniors
Teine se juniors het swaar gekry. Die o.19’s het met 52–14 verloor, en die o.21’s is met 64–5 afgeransel.
Vir die o.19’s het Sibusiso Pitso en Afrikha Diago elk ’n drie gedruk, terwyl Zac Smith twee doelskoppe geslaag het. Sphesihle Hlongwane en Vuyolwethu Gwenxane is as Spelers van die Week aangewys.
Die enigste puntemaker vir die o.21’s was Tristan Odendaal, wat ook ’n drie aangeteken het.



