Wes-Rand jukskei gooi vir goud
Die Noordvaal-toernooi het verskeie uitblinkende jukskei-spanne van die Wes-Rand gesien, met skole soos Laerskool Rapportryer en Hoërskool Bastion wat puik prestasies behaal het.
Die Wes-Rand se jukskei-spanne het onlangs op streekvlak bewys hoekom hulle die kollig oorheers tydens die Noordvaal-toernooi.
• Lees ook: Jukskei-tradisie leef voort aan die Wes-Rand
Volgens die Wes-Rand se skolevoorsitter, Dawid de Lange, bestaan die toernooi uit die ligawenners van verskillende streke se skole, naamlik Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Gauteng.
Laerskool Rapportryer se o.13-seuns- en -dogterspanne het albei eerste plek op die podium verwerf. Hoërskool Bastion se o.16-seunspan het ’n uitstekende derde plek behaal, met Hoërskool Riebeeckrand se o.16-dogterspan wat gevolg het met nog ’n derde plek prestasie.
Die Wes-Rand het ’n algehele derde plek tussen al die provinsies behaal.
Tydens die toernooi is vyf uitblinkende seuns en dogters uitgewys.

Die volgende spelers van die Wes-Rand is aangewys as uitblinkers:
• Theadri Blignaut o.13
• Dawid de Lange o.13
• Henco de Lange o.16
• Lukas Benecke o.13
• Leanie Benecke o.19
Ons as Wes-Rand is baie trots op ons jong opkomende deelnemers en weet daar wag ’n groot toekoms vir hulle in jukskei,” het Dawid gesê.
Die volgende groot toernooi waarna die Wes-Rand-span uitsien, is die Gauteng Ope-toernooi wat op 18 Oktober sal plaasvind. Dawid het genoem al die unies van Gauteng sal op die dag meeding vir die gesogte titels.




