Jukskei-tradisie leef voort aan die Wes-Rand
Plaaslike skole het hul talent ten toon gestel toe die Wes-Rand jukskei-liga met spangees en sterk kompetisie afgeskop het.
Wes-Rand-jukskeiklubs het onlangs aan die eerste rondte van die liga deelgeneem, waar plaaslike skole teen ander skole in die distrik meegeding het.
Die deelnemende laerskole was Rapportryer, Randfontein en West Gold Primary, terwyl die hoërskole Riebeeckrand, Jan Viljoen, Bastion, Randfontein High School en Monument ingesluit het.

Die spangroepe wat kragte gemeet het, was die o.11-, o.13-, o.16- en o.19-spanne, wat uit seuns-, dogter- en gemengde spanne bestaan het. Uit elke ouderdomsgroep word ligawenners aangewys, en die o.13- tot o.19-spanne dring deur na die Noordvaaltoernooi wat in September in Boksburg plaasvind.

Volgens die Wes-Rand se skolevoorsitter, Dawid de Lange, bestaan jukskei in die distrik uit Kosmos, Impala, Monument, Rustenburg en Randburg-klubs. Hy het verder gesê Wes-Rand-jukskei is tans aktief in die hele land, asook in Namibië, Uganda, Lesotho, Mauritius en selfs dele van die VSA. Die Kosmos Randfontein Klub is bevoorreg om die Wes-Rand se hoofkwartier te huisves.
Hy het verduidelik dat lede reeds op skoolvlak begin deelneem en daarna by een van die Wes-Rand-klubs aansluit om hul vaardighede verder te ontwikkel. Tydens die ligas is daar volgens hom ’n ongelooflike spangees, met spelers wat ywerig meeding om die gesogte trofeë en medaljes.

“Spelers se hoogtepunt is om gekies te word om die land by die Junior- of Senior Kampioenskappe te verteenwoordig. Dit is ’n spoggeleentheid om ook internasionaal teen ander spanne deel te neem. Suid-Afrika toer jaarliks na Namibië waar daar kragte gemeet word tussen die twee lande,” het hy gesê.
Oor die agtergrond van die sport het Dawid verduidelik dat jukskei sy oorsprong reeds in 1734 in Suid-Afrika gehad het. Dit het ontstaan as ’n tydverdryf vir mense wat met ossewaens deur die land gereis het.

“Die waens was die vervoermiddel, veral vir transportwaens wat handelsware binnelands vervoer het. Tydens die osse se uitspan en om die lang ledige ure te verwyl, het die trekkers die skeie uit die jukke verwyder en na ’n voorwerp in die grond gegooi. Die juk was oor die osse se nekke gespan en die skeie het langs die osse se koppe elke os in posisie gehou. Transportryers in die Kaap het dit ook gespeel by groter rusplekke, waar die sport verder ontwikkel het tot ’n inheemse en georganiseerde sport,” het hy verduidelik.



