Local sport

Ramkriekies se netbalsterre beïndruk met perfekte seisoen

Ramkriekies se o6-netbalspan het met spanwerk, dissipline en deursettingsvermoë 'n onoorwonne seisoen beklink.

Die o6-netbalspan van Ramkriekies het vanjaar ‘n merkwaardige prestasie behaal deur die seisoen onoorwonne af te sluit.

Die jong spelers het nie net hul talent op die baan gewys nie, maar ook bewys dat harde werk, spanwerk en deursettingsvermoë reeds op ‘n jong ouderdom vrugte kan afwerp.

Volgens afrigter Annalie Grobbelaar, wat die o6-span reeds 24 jaar afrig, was dit ‘n voorreg om die talentvolle groep meisies te begelei.

“Dit is ‘n ongelooflike prestasie waarop die hele span baie trots kan wees. Dit weerspieël die harde werk, toewyding en deursettingsvermoë van elke speler deur die seisoen,” het sy gesê.

‘n Trotse juffrou Annalie saam met haar ster o6-netbalspan van Ramkriekies. Foto: Verskaf

Volgens Grobbelaar was spanwerk die sleutel tot die span se sukses.

“Elke speler het haar rol verstaan en was bereid om vir mekaar te werk. Hulle het mekaar ondersteun en altyd hul beste gegee.”

Toe sy gevra is oor die span se “geheime resep” vir sukses, het sy verduidelik dat dit bestaan uit harde werk, dissipline, respek, deursettingsvermoë, goeie kommunikasie, ‘n positiewe ingesteldheid en spanliefde.

Deur die loop van die seisoen het die meisies nie net as spelers gegroei nie, maar ook sterk vriendskappe opgebou. Op die baan het hulle meer selfvertroue ontwikkel en as ‘n hegte eenheid begin speel.

Dissipline en gereelde oefening het volgens Grobbelaar ‘n belangrike rol in die span se prestasie gespeel.

“Die meisies het elke oefensessie ernstig opgeneem en voortdurend aan hul vaardighede gewerk.”

Die Ramkriekies-span het gedurende die seisoen 10 wedstryde gespeel teen Laerskool Krugersdorp-Noord, Laerskool Protearif, Laerskool Gerrit Maritz, Laerskool Losberg, Florida Primêr, Laerskool Fochville en Laerskool Rapportryer. Elke wedstryd het unieke uitdagings gebied en bygedra tot die span se ontwikkeling.

Volgens Grobbelaar was die ondersteuning van ouers en die skool van onskatbare waarde.

“Hul aanmoediging, betrokkenheid en ondersteuning het die meisies gemotiveer om elke week hul beste te lewer.”

‘n Trotse juffrou Annalie saam met haar ster o6-netbalspan van Ramkriekies. Foto: Verskaf

Een van die trotse ouers, Chané van Deventer, sê dit is ‘n voorreg om haar dogter en die span week na week in aksie te sien.

“Ek is baie trots op haar en die hele span. Hulle gee elke wedstryd hul alles en werk so mooi saam. Dit is wonderlik om hulle te sien speel.”

Haar dogter het in 2025 by Randfontein Klub Netbal begin speel voordat sy vanjaar by die skoolspan aangesluit het.

“Dit is ‘n ongelooflike prestasie en ons is baie trots op hulle. Ons sien uit daarna om te sien wat die toekoms vir haar in netbal inhou.”

Van Deventer sê die hele familie ondersteun haar dogter se liefde vir die sport.

“Ek is by elke wedstryd daar en ouma maak seker sy mis nie een oefening nie. Dit is lekker om vroeg op ‘n Saterdag op te staan vir netbal. Jy moet net sorg vir genoeg snacks en Energade!”

Mieke van Deventer wat ook as 'n Speler van die Wedstryd aangewys is.

Vir die jong speler gaan netbal nie net oor wen nie, maar ook oor die vreugde van die spel.

“Sy is mal daaroor om doele aan te teken en saam met haar maatjies te speel,” het Van Deventer vertel.

Hoewel sy tans nog in Graad R is, glo haar ouers dit is belangrik om van jongs af ‘n gesonde balans tussen akademie, sport en kultuur te handhaaf.

“Sy presteer ook goed op skool en ons glo ‘n gesonde balans tussen akademie, sport en kultuur is belangrik. Kinders is nooit te jonk om te begin nie.”

Span-lid Kiara-Lee wat as ‘n Speler van die Wedstryd gekroon is. Foto: Verskaf

Volgens Van Deventer was daar tot dusver min uitdagings.

“Daar is geen uitdagings nie; dit is net hope pret en plesier.”

Sy beskryf haar dogter as ‘n talentvolle speler met ‘n groot passie vir die sport.

“Sy is lief vir netbal en geniet elke oomblik daarvan.”

Met ‘n onoorwonne seisoen agter die rug en ‘n span vol talent en entoesiasme, lyk die toekoms blink vir hierdie jong Ramkriekies-netbalsterre.

Nirvana van Sittert in aksie.

“Wat ook al haar sportdrome mag wees, sal ons haar ondersteun om dit te bereik. Vir nou moet sy elke oomblik geniet,” het Van Deventer afgesluit.

Grobbelaar het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor elke speler, ouer en ondersteuner wat deel was van die besonderse seisoen.

“Ons is ongelooflik trots op wat hierdie jong meisies bereik het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button