News

Skorsing plaas entstofbaas onder soeklig

Die Minister van Landbou, Willie Aucamp, glo dat die voorsorgskorsing van 'n staatsentiteit se entstofbaas nie die land se voortgesette inentingspogings behoort te beïnvloed nie. Hy het belanghebbendes ook verseker dat vordering met die bekamping van die uitbreking van die siekte sal voortgaan.

Die skorsing van die waarnemende uitvoerende hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het op 4 September gevolg nadat die landbouminister inligting oor beweerde ernstige wangedrag rakende die prysbepaling van bek-en-klouseer-entstowwe aan die direksie voorgelê het.

Die minister van landbou, Willie Aucamp, het Vrydag bevestig dat die OBP-direksie in Pretoria-Noord ’n voorsorgskorsing teen die instelling se waarnemende uitvoerende hoof, dr. Jacob Modumo, ingestel het.

Die stap kom te midde van Suid-Afrika se grootste bek-en-klouseeruitbreking tot nog toe en plaas die wyse waarop entstowwe se pryse vasgestel word, sowel as die bestuur van die staatsentiteit, onder toenemende aandag.

Aucamp het op Vrydag ’n dringende vergadering met die OBP-direksie belê. Tydens die vergadering het hy die direksie ingelig oor inligting wat verband hou met bewerings van ernstige wangedrag rakende die prys van bek-en-klouseer-entstowwe.

OBP is ’n staatsentiteit onder die Departement van Landbou se toesig wat biologiese produkte en entstowwe vir diere vervaardig en verskaf.

Die direksie het die saak oorweeg en die waarnemende uitvoerende hoof kennis gegee van sy voorneme om hom te skors. Volgens die minister se verklaring is hy ingevolge OBP se beleid vyf dae gegun om redes aan te voer waarom hy nie geskors behoort te word nie.

Die skorsing beteken dus nie dat daar reeds bevind is dat hy skuldig is aan enige wangedrag nie. Indien sy redes volgens die direksie onvoldoende is, sal die skorsing voortduur hangende ’n onafhanklike ondersoek na die bewerings.

Aucamp het verduidelik die onderskeid is belangrik omdat die proses nog in ’n vroeë stadium is.

Die waarnemende uitvoerende hoof het nog nie sy vertoë afgehandel nie en ’n onafhanklike ondersoek moet nog plaasvind voordat enige finale gevolgtrekking oor die bewerings gemaak kan word.

Vir Aucamp is die kern van die saak egter die prys van bek-en-klouseer-entstowwe op ’n tydstip wanneer veeboere reeds onder buitengewone finansiële druk verkeer weens die uitbreking.

“Die OBP behoort, as ’n staatsentiteit, in die openbare belang op te tree,” het Aucamp gesê.

Volgens hom behoort daar daarom nie ’n buitensporige winsopslag op bek-en-klouseer-entstowwe te wees nie, veral nie terwyl boere reeds die finansiële las van die uitbreking dra nie.

Die minister se standpunt plaas die prysbepalingsproses van OBP sentraal. Dit bring ook vrae mee oor hoe die koste van die entstowwe bereken is, watter rol die bestuur in die besluitneming gespeel het en of die pryse strook met die verantwoordelikheid van ’n staatsinstelling om die landboubedryf tydens ’n nasionale dieresiektekrisis te ondersteun.

Aucamp het benadruk dat die voorsorgskorsing nie die land se voortgesette inentingspogings behoort te beïnvloed nie. Hy het belanghebbendes ook verseker dat vordering met die bekamping van die uitbreking sal voortgaan.

Hy het voorts ’n beroep op boere gedoen om voort te gaan om aansoek te doen vir die bemagtiging om self entstowwe toe te dien. Dit stel hulle in staat om hul eie diere volgens die toepaslike vereistes en protokolle te ent.

Aucamp het gesê die regering het ’n verantwoordelikheid om boere te beskerm en te ondersteun deur toe te sien dat entstowwe op die mees kostedoeltreffende en doeltreffende wyse verkry en beskikbaar gestel word.

Hy het ook beklemtoon dat goeie bestuur, aanspreeklikheid en behoorlike prosedures in staatsinstellings gehandhaaf moet word.

“Dit is belangrik dat die departement sowel as alle openbare entiteite en direksies onder my toesig hul pligte eties en volgens die hoogste standaarde uitvoer. Niks minder sal geduld word nie. Daarom sal ek sterk toesig oor sulke entiteite handhaaf om te alle tye goeie bestuur te verseker,” het Aucamp gesê.

Vrae is aan die OBP gestuur vir kommentaar, maar geen is teen publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button