Polisiehond: Aansoek van bevoegde persoon glo nie deurgesit

Sky, ’n voormalige polisiedienshond, is op 9 September deur veeartse by Onderstepoort-dierehospitaal uitgesit nadat sy ernstige beserings by die Roodeplaat Polisie-hondeeenheid se dierehospitaal opgedoen het. Ian Cameron en Renate Barnard sê vrae oor ’n vertraagde aansoek om haar na ’n nuwe tuiste te verskuif, asook die gebrek aan deurlopende toesig, moet ondersoek word. Dierewelsynsgroepe vra ook groter aanspreeklikheid.

“Ek is verpletter.”

Dis hoe Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie, voel oor die afsterwe van Sky, ’n voormalige polisiedienshond wat ernstige beserings opgedoen het tydens haar verblyf by die Polisie-honde-eenheid se veterinêre hospitaal by Roodeplaat naby Pretoria.

Sky se toestand het volgens Cameron oornag na 8 September só versleg na haar opname by Onderstepoort se dierehospitaal dat veeartse geen ander opsie as genadedood gesien het nie. Sy het onder meer ’n oop breuk aan haar linker voorbeen gehad, terwyl weefsel begin afsterf het.

Die beserings was volgens hom só ernstig dat chirurgie en narkose uiters gevaarlik sou wees.

Onderstepoort se dierehospitaal sal nou ’n kliniekgeleide nadoodse ondersoek doen en ’n formele verslag saamstel. Cameron sê dié verslag moet deel vorm van enige ondersoek na Sky se dood.

Hy het intussen ’n strafsaak geopen en sê hy steun die besluit van die waarnemende nasionale kommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, om ’n senior polisiebeampte aan te stel om die omstandighede te ondersoek.

Die nadoodse ondersoek, veterinêre rekords, toesigrekords en ander beskikbare bewyse sal ’n belangrike rol speel om vas te stel wat presies met Sky gebeur het. Foto: Facebook/Ian Cameron
eskrywing: Dokument

Cameron het aan Rekord gesê die vraag is of die polisie se aanvanklike weergawe van gebeure deur beskikbare getuienis en dokumentasie gestaaf kan word.
Volgens Cameron het die polisie aangevoer dat Sky bloot by Roodeplaat gehuisves is terwyl reëlings getref is om haar aan ’n geskikte nuwe eienaar toe te wys en dat die skenkings- en plasingsproses nog aan die gang was.

Hy sê die polisie se eie veterinêre sertifikaat, wat op 28 Augustus onderteken is, verg nadere ondersoek. Daarvolgens is Sky reeds in Maart by Roodeplaat opgeneem met beserings wat met kennel stress en vorige ontsnappingspogings verband gehou het.

Die dokument beskryf onder meer wonde aan haar gesig en bene en skade aan haar tande by haar Maart-opname.

Renate Barnard, netwerkkoördineerder by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke en voormalige polisielid, sê die situasie moet gesien word teen die agtergrond van Sky se loopbaan en haar gedrag.

Sky het volgens Barnard sowat vyf jaar saam met ’n hondegeleier in Thohoyandou in Limpopo gewerk en as brandstigtingsopsporingshond diens gedoen.

Nadat gedragsprobleme ontstaan het, is sy toenemend in ’n hondehok aangehou voordat sy in Maart na Roodeplaat verskuif is.

Volgens Barnard het ’n bevoegde persoon wat sy ken met nagraadse kwalifikasies in dieresielkunde ’n geruime tyd gelede aansoek gedoen om Sky in te neem. “Hy het Sky goed verstaan en haar by die dierehospitaal besoek,” sê Barnard.

Volgens haar het dié aansoeker Sky Maandagoggend ná die beseringsvoorval by Roodeplaat gaan haal en self na Onderstepoort geneem.

Barnard skryf die vertraging rondom die aansoek toe aan wat sy as ‘burokratiese rompslomp’ beskryf.

Cameron sê dit is een van die kernkwessies wat ondersoek moet word. Volgens inligting wat aan hom verskaf is, het lede van die polisie ook gevra dat hangende die aansoek, Sky selfs tydelik na ’n geskikte huis geneem word terwyl die formele aansoek verwerk word.

Hy sê dié versoek is glo nie na die betrokke senior bevelvoerder deurgevoer nie en die aansoek is ook nie verwerk nie. “Die polisie moet verduidelik hoe ’n sogenaamde aktiewe plasingsproses vir ongeveer 160 dae kon voortduur terwyl daar volgens die beskikbare veterinêre dokumentasie kommer oor die uitwerking van haar omstandighede op Sky was.”

Die omstandighede van 6 September behoort nog ’n belangrike deel van die ondersoek te wees. Barnard sê Sky is vanaf ongeveer 16:00 die Sondag tot Maandagoggend alleen gelaat.

Volgens haar behoort Roodeplaat as ’n 24-uur-fasiliteit te funksioneer. Sy sê die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad het reeds ná ’n vorige klagte teen die fasiliteit aangedui dat deurlopende toesig nodig is.

Brendan Murray, ’n diereredder van die Uilreddingsentrum naby Pretoria, sê die aard van ’n Belgiese Malinois moet in ag geneem word wanneer jy ’n eienaar van dié honderas is.

“Om hulle 18 uur per dag in ’n hok toe te sluit, is doodgewoon wreed,” sê Murray.

Volgens hom is ’n werkhond soos ’n Malinois ’n dier met ’n uiters sterk dryfkrag wat ruimte, aktiwiteit, geestelike stimulasie en menslike betrokkenheid nodig het.

“Wanneer jy ’n werkhond, ’n dier wat gebou is met ’n intense, hoë-aandrywingsenjin, driekwart van die dag toesluit, rus jy hom nie. Jy breek hom,” sê hy.

Samantha Jacobs van Friends of the Rottweiler Rescue and Re-home South Africa, sê haar organisasie is diep ontsteld oor Sky se dood.

“Sky was ’n lewende wese met emosies wat van die mense wat vir haar verantwoordelik was, afhanklik was. Sy het beter verdien. Elke dier verdien beter,” sê Jacobs.

Sy sê die voorval moet ook vrae laat ontstaan oor die behandeling van werkhonde in Suid-Afrika.

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het intussen bevestig dat sy Spesiale Projekte-eenheid se inspekteurs op 9 September by Roodeplaat was om met ’n ondersoek te begin.

Die organisasie sê die hele fasiliteit sal ook verder geïnspekteer word en dat die saak ingevolge die Wet op Dierebeskerming beoordeel sal word. Die NDBV het ook gevra dat die ondersoekers die geleentheid gegun word om die feite volledig vas te stel voordat verdere besonderhede bekendgemaak word.

Die polisie het beklemtoon dat dit voortydig sou wees om nalatigheid of oortreding toe te skryf voordat al die feite vasgestel is.

Brigadier Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Sky sal gemis word deur diegene wat vir haar gesorg het. “Ons is ook bewus van die pyn wat haar hanteerders en die K9-gemeenskap in hierdie moeilike tyd ervaar.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button