Tradisie van pienk lappe nou ook in die pers stad
'n Unieke projek wat kankerbewusmaking bevorder, naamlik Pink Trees for Pauline, word al deur meer as 50 dorpe landswyd ondersteun en inwoners van Pretoria het ingespring om bome in die pers stad in pienk te tooi.

‘n Groep inwoners in die noorde en ooste van Pretoria het onlangs op ‘n prettige, pienk wyse hul ondersteuning vir kankerbewusmaking gewys deur aan ‘n projek genaamd Pink Trees for Pauline deel te neem.
Dié projek is in 2012 in Graaff-Reinet deur drie dames, Adri van Nieuwenhuizen (‘n borskankeroorwinnaar), Dokter Pam Kerr (‘n opvoedkundige sielkundige) en Carol-Ann van Jaarsveld van stapel gestuur. Van Jaarsveld het haar ma en ouma aan borskanker verloor. Beide se name was Pauline en vandaar die naam vir die Pink Trees for Pauline-inisiatief .
Van Nieuwenhuizen, die besturende direkteur, het gesê pienk materiaallap kan teen ‘n minimumdonasie van R20 per meter gekoop word. Dit word daarna om boomstamme gebind om sodoende bewustheid te skep en geld te in. Dié unieke projek het groot indruk op gemeenskappe landswyd gemaak en daar is tans meer as 50 deelnemende dorpe wat bome in pienk getooi het. Die geleentheid vind elke jaar op die Vrydag wat die naaste aan 19 Oktober is, plaas.
Volgens Van Nieuwenhuizen word 80% van alle ingesamelde geld aangewend om die lewenskwaliteit van kankerlyers in deelnemende dorpe te verbeter. Sy het bygevoeg dat die lap eers aan die einde van November afgehaal moet word sodat dit ook deel van ‘Movember’ kan uitmaak. Die lap sal daarna aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies geskenk word.
Kort nadat dié hartroerende projek onlangs ook op ‘n televisieprogram uitgesaai is, het sowat 50 inwoners van die Twee Riviere aftree-oord asook persone by die Kolonnade Retail Park en Pretoria Boys High School spontaan ingespring om hul bydraes te lewer en talle foto’s is aan Rekord gestuur.
“Nadat baie inwoners pienk strikkies gekry het, is pilare en sommige boompies met pragtige pienk lint en lap versier. Die pilare in die versorgingseenheid het ook pienk strikke gekry en ons het sowat R600 vir die kankervereniging ingesamel. Dit sal beslis ‘n jaarlikse instelling by ons word,” het Annelize Oberholzer van die Twee Riviere aftree-oord gesê.