Cent18Tweeling70
Twee susters is geseënd om hul verjaarsdag saam te vier in 'n blye manier.

Saam lag, saam kuier en saam lappe koop is wat die tweelingsusters van Centurion al die afgelope 70 jaar gedoen het.
Tia Rodgers en Anna Beetge het onlangs ‘n groot makietie by ‘n spoggerige landgoed in Raslouw, Centurion, gehou om hul 70ste verjaarsdag te vier.
Tussen pragtige blomme en pastel kleure, het dertig vroue bymekaargekom om deel te hê in hierdie besondere geleentheid. Die susters se liefde vir materiaal en naaldwerk het hulle geinspireer om die inisiatief te neem en hul eie wit en pers bypassende uitrustings self te maak.
Dié susters is al jare lank vriendinne, maar het eers in die afgelope 10 jaar die voorreg gehad om mekaar se vriendskap elke dag te ervaar. In die verlede het hulle aan weerskante van die land gewoon, maar nou woon hulle slegs kilometers van mekaar.
Hulle kuier gereeld oor en weer. “Ek sien Anna ses dae van die week, sodat sy op Sondae tyd met haar man kan spandeer,” het Rodgers, wat geskei is, gesê.
Die susters is jolig en vriendelik en ken mekaar so goed dat hulle mekaar se sinne voltooi.
Hul beste kinderdae-herinneringe is veldbessies eet en kaalvoet op die plaas waar hulle grootgeword het in Tshipise rond te hardloop.
Al is beide susters pensioenarisse, het hulle ‘n baie besige program tussen hul vrywillige werk by die Centurion Hospice en die naaldwerk wat hulle vir ander mense doen.
Beetge het haar loopbaan geniet in die bankwese, maar nou is dit vir haar lekker om nie te werk nie, het sy gesê.
Rodgers het by ‘n myn in Phalaborwa gewerk en alhoewel sy nou afgetree is, het sy gesê sy sal met graagte in ‘n materiaalwinkel gaan werk.
Behalwe hul liefde vir lappe en tekstiel, het albei ‘n begeerte om weer te gaan toer. Op hulle leeftyd het hulle alreeds verskeie lande besoek, maar elkeen het nog ‘n hartsbegeerte om ‘n trein of ‘n vliegtuig na ‘n eksotiese bestemming te neem.
Beetge wil baie graag met die Bloutrein toer of na Italië reis. “Dié plek is so bekoorlik met sy eeueoue argitektuur,” het sy dromend gesê.
Die avontuurlustige Rodgers sien kans vir die bosveld en wil graag die wild van die Serengeti beleef. Sy wil ook graag eendag op die TV-reeks Strictly Come Dancing verskyn, waar sy haar passie vir dans kan uitleef.
Beetge, aan die ander kant, het gesê dat as daar één ding is wat sy die graagste wil hê, is dit een dag saam met al haar familielede om één tafel.
Die tweeling is albei bevoorreg om op hulle leeftyd ouma’s en oumagrootjies te wees. Beetge het twee dogters en twee kleindogters. Rodgers het drie dogters, vier kleindogters, twee kleinseuns en een agter kleindogter.
“Dit is ook genade van Bo dat ons ons ouderdom bereik het,” het Rodgers gesê. “Hoe ouer ons word, hoe meer genade het ons.”