Theunissen verruil Vryheidsfront Plus vir DA en nuwe hoofstuk
Die voormalige koalisieleier van die Vryheidsfront Plus in Tshwane, het sy bedanking by die party ingedien op 25 Augustus en aangekondig dat hy by die DA aansluit. Hy sê onlangse gebeure het die besluit versnel, maar hy vertrek met ’n geruste hart, gefokus op diens.
Grandi Theunissen, voormalige koukusleier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in die Tshwane-metroraad, het op 25 Augustus aangekondig dat hy die party verlaat en by die DA aansluit.
Hy het sy bedanking omstreeks 08:00 by die VF Plus ingedien en by ’n nuuskonferensie by die DA se hoofkantoor in Pretoria-oos sy besluit bekendgemaak.
Theunissen, wat sedert 1994 ’n lid van die party was, sê die besluit is nie ligtelik geneem nie.
Volgens hom het gebeure binne die party oor die afgelope paar maande tot toenemende ontnugtering gelei. “Dit was vir my ontstellend dat ek skuldig sonder verhoor bevind is.”
Hy beklemtoon dat hy die nuwe politieke rigting met ’n geruste hart aanpak.
Hy sê sy ervaring tydens ’n vorige koalisie tussen die DA en die VF Plus in Pretoria het ’n belangrike rol in sy besluit gespeel.
In daardie tyd was hy verantwoordelik vir veiligheid in die burgemeesterskomitee en het hy nou saam met DA-raadslede gewerk.
Theunissen sê die samewerking het hom oortuig dat die DA en sy verteenwoordigers in staat is om praktiese oplossings vir inwoners te ontwikkel. Hy het veral verwys na finansiële bestuur en veiligheidskwessies as gebiede waar daar konkrete vordering in die vorige bedeling gemaak was.
Hy sonder ook misdaadbekamping uit as ’n veld wat nou weer ernstige aandag nodig het. Volgens hom moet die stad voortgaan om tegnologie en ander hulpmiddels te gebruik om inwoners beter te beskerm. Hy sê Pretoria het dringend aandag aan sulke uitdagings nodig.
Die voormalige VF Plus-leier sê partygebeure van die afgelope weke was vir hom traumaties.
Hy voer aan dat besluite op nasionale vlak oor sy politieke posisie geneem is sonder dat hy voldoende geleentheid gekry het om sy kant van die saak te stel.
Hy dui aan dat hy nie van plan is om sy vertrek in ’n openbare stryd met sy voormalige party te verander nie. “Ek gaan nie ’n bekgeveg hieroor hou nie.”
Sy verhouding met die VF Plus het reeds vroeër vanjaar onder druk gekom toe Willie Spies, ’n voormalige parlementêre lid van die party, as die party se burgemeesterskandidaat aangekondig is.
Theunissen is daarmee oorgesien, wat sy toekomstige rol binne die organisasie onseker gemaak het.
Spanning het later verder toegeneem ná ’n onlangse besluit in die Tshwane-raad oor ’n moontlike ontwikkeling in Groenkloof. Die VF Plus het in die stemming saam met die ANC-EFF-koalisie gestem.
Dié gebeure het moontlik bygedra tot die nasionale leierskap se besluit om sy leidende rolle in die raad en op streeksvlak te heroorweeg.
Hy sê hy is opgewonde oor die toekoms binne die DA en wil sy aandag daarop vestig om inwoners te dien. Hoewel hy erken dat hy bekwame mense binne die VF Plus agterlaat, glo hy baie van hulle sal sy besluit verstaan.
“Ek is hier om die gemeenskap te dien,” sê hy.
Theunissen het hom daarvan weerhou om voorspellings te maak oor toekomstige samewerking tussen die DA en die VF Plus. Hy wou ook nie spekuleer oor hoe die twee partye ná die plaaslike verkiesing van 4 November moontlik binne ’n koalisie kan saamwerk nie.
Cilliers Brink, die DA se burgemeesterskandidaat in Tshwane, het Theunissen namens die party verwelkom.
Brink sê Theunissen se politieke ervaring en kennis kan tot voordeel van die DA wees.
Volgens Brink het Theunissen se professionaliteit tydens die vorige koalisie hom veral beïndruk. Hy sê daardie samewerking het ook die destydse koalisie gehelp om verskeie besluite deur te voer.
Hy beklemtoon egter dat Theunissen nie ’n spesifieke posisie binne die DA aangebied is nie. Sy toekomstige rol sal dus nog bepaal moet word.
Die oorgang bring ’n nuwe politieke fase vir Theunissen mee, terwyl die DA toegang kry tot ’n raadslid met jare lange politieke ervaring.
Vir Theunissen is die boodskap eenvoudig: hy wil sy volgende hoofstuk gebruik om op Pretoria se inwoners en die stad se uitdagings te fokus.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
