Kersliggies betower eersdaags weer
Die jaarlikse Jakaranda-kinderhuis se liggiefees belowe om weer gans en al te betower.
Dit is amper weer daardie tyd van die jaar waar die Jakaranda-kinderhuis in East Lynne Pretorianers met derduisende kersliggies gaan betower.
Santa’s Warehouse in Silverton het meer as 60% van die kersliggies op die terrein aan die kinderhuis geskenk en dié nuwe liggies sal deel vorm van die vierde jaarlikse kersliggiefees.
“Die skenking het werklik ’n verskil gemaak en ek is oortuig dat vanjaar se Kersliggiefees ’n skouspelagtige vertoning gaan verseker,” het Chris Louw, organiseerder van die liggiefees, gesê.
Op 30 November om 18:00 open die Jakaranda-kinderhuis hul Kersliggiefees en dit beloof om groter as ooit te wees.
Die fees sluit in drie konserte, twee laservertonings en kunstenaars soos Ghapi, die Cambells, Freda Francis, Piet Smit, Lance James, Ronel Erasmus Tania Berrange Pierre Vigoureux, Bobby Angel, Billy Forest, Sally Vaughn, Charles Rudd, Jody Wayne en Hannes van Tonder.
Jakaranda-kinderhuis hou sedert 2010 elke jaar in Desember ’n Kersliggiefees as deel van hul jaarlikse fondsinsameling en ook om hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap uit te spreek vir hul deurlopende ondersteuning. Louw het gesê hulle poog ook om die kinders die ware betekenis van Kersfees te leer.
Die personeel, kinders en skenkers versier 21 huise op die perseel en die terrain met ’n miljoen kersliggies, en open dan die terrain vir die publiek om dit te kom besigtig oor die feestyd.
Louw het gesê alhoewel hulle reeds goed op dreef is benodig hulle nog verskeie skenkings om die Liggiefees ’n totale sukses te maak. Hy het gesê daar is nog verskeie huise wat skenkers nodig het, elektriese draad, kabelbinders, kleefband, vrywilligers vir die opsit van liggies en liggie herstelwerk, ’n nutsman en elektriese koppelblokkies.
Louw het gesê hulle het verlede jaar sowat 54 000 besoekers gehad, maar hoop dat hulle ongeveer 70 000 hierdie jaar sal hê.
Navrae: Christo Louw by 012-800-4700.