Prestige gholfdag by Voortrekkermonument gehou
Vroue wys hul staal en swaai die gholfstokke t.b.v. 'n fondsinsameling

Ja, Voortrekkertannies kan ook gholf speel. Gholfspelers van dwarsoor Pretoria het Vrydag by die Pretoria Buiteklub byeengekom ter ondersteuning van die Voortrekkermonument se geldinsamelingsinisiatief.
Om so ’n bietjie kleur aan die dag se verrigtinge te gee, het verskeie vroue in Voortrekkerklere en ’n bobaas sweepklapper die gholfspelers aangemoedig.
Altesame negentien vierbalspanne het dit van bof tot bof uitgespook, want net so mildelik as wat die borge bygedra het vir die Voortrekkermonument se uitstalling van die beoogde gipspanele waarvan die friese in die monument gemaak is, net so groot was die pryse om by eksotiese gholflandgoedere elders in die land te kan speel.
Van die bekende instansies wat die funksie geborg het is Solidariteit, Afriforum, die ATKV, PSG Consultant Planning en A.C Tech Systems.
Die Voortrekkerbeweging het ook ’n putjie geborg.
Sonja Lombard, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het gesê dit is die eerste keer dat die Monument op sy eie ’n prestige gholfdag reël. Voorheen is die prestige gholfdae saam met die Erfenisstigting gereël.
“Al die geld wat met die gholfdag ingesamel word, word aangewend vir die gipsuitstalling,” het Lombard gesê. “Mense wat nie vandag hier is nie het ook geld vir die projek bewillig. Die gipsuitstalling is deel van die 175-jarige gedenking van die Groot Trek en is ’n projek ter waarde van R500 000 wat in die senotaafsaal staan gemaak sal word. Ons gaan die aanloop en die agtergrond en hoe daar op die verskillende beeldhouers besluit is, uitstal. Ons gaan die storie vertel van die aanloop tot die skepping van die marmerfriese.”
Die marmerfriese in die heldesaal is 92 meter lank en word geag as die langste in die wêreld te wees. Die oorspronklike gipspanele waarvan die friese gemaak is, word tans in ’n stoor by die Monument bewaar.
Op sterkte van die belangstelling wat die prestige gholfdag uitgelok het, het die bestuur besluit dat die Voortrekkermonument se prestige gholfdag ’n jaarlikse instelling sal word.