Local newsNews

Paartjie vier 50ste huweliksherdenking

'n Man het 'n onbekende vrou vyftig jaar terug gesien en aan sy maats beloof dat hy nog met haar gaan trou - nou vier hulle saam hul gouebruilof.

‘n Man wat ‘n halfeeu terug met die eerste blik verlief geraak het op ‘n mooi vrou, het onlangs saam met dieselfde vrou hulle 50ste huweliksherdenking gevier.

Henry Hepburn (73) van Magalieskruin het vertel hoe hy meer as vyftig jaar terug by sy werkplek in Bloemfontein ‘n mooi vrou oor die straat sien loop het en toe al besluit dat hy die res van sy lewe met haar gaan deurbring.

“My vrou Ansie (71) het een middag naby my werksplek oor die straat geloop, en almal het in bewondering na haar gestaar en ek het vir almal gesê, daar loop die meisie met wie ek gaan trou.”

Almal het natuurlik gedink dat hy net ‘n grap maak, maar Henry het gesê hy het geweet dit is hoe dit gaan wees.

Die paartjie het kort na Henry se belofte aan sy kollegas ontmoet en die vonke het onmiddellik gespat.

Na vyftig gelukkige jare het die twee hulle gouebruilof gevier saam met vriende en familie.

Die Hepburns deel drie kinders en agt kleinkinders en het vertel dat hulle liefde vir die kinders onbeskryflik is.

Ansie het vertel dat sy en haar man ‘n liefde vir rolbal en die buitelewe deel.

“Die bosveld is ons groot liefde en ons geniet die mooiheid daarvan. Ons is ook albei aktief betrokke by rolbal en geniet die spel baie.”

Sy het ook verklap dat die vyftig jaar saam met haar sielsgenoot nie altyd maanskyn en rose was nie.

“Moenie dink dat die afgelope 50 jaar sonder teëspoed verbygegaan het nie. Daar was baie probleme maar ons het vasgebyt en ek het my man te alle tye ondersteun.”

Henry het bygevoeg dat hulle liefde vir mekaar nooit getaan het nie en dat hy steeds dieselfde voel oor sy vrou nou ná 50 jaar, as die eerste keer wat hy haar oor die straat sien stap het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button