Local newsNews

Kolossale boom val op huis se dak

Dié boom in Pretoria-Noord het Donderdagaand in drie geskeur en ook kragdrade verwoes toe dit neergeval het.

Dianne Chapman

‘n Reuse stinkhoutboom het Donderdagaand tydens ‘n erge storm in drie geskeur en grootskaalse skade veroorsaak toe een gedeelte op kragdrade in Pretoria-Noord neergeval het.

Die ander twee dele van dié 40m-hoë boom het, onder andere, ‘n palisadeheining verwoes en op ‘n huis se dak beland.

Die eienaar van die huis, Jan van Rensburg, het gesê lede van die sektorpolisiëringsforum (SPF) was gelukkig blitsig op die toneel om die pad af te sper.

“Die lewendige kragdrade het nog in die pad gelê. Motoriste is gou ingelig dat hulle nie in die straat moes ry nie,” het hy gesê.

Van Rensburg het vertel dat die boom se stam só groot was dat drie volwasse mans met oop arms om dit kon strek.

“Die deel wat in die pad gelê het, is Vrydagoggend deur metrowerkers verwyder. Die res van die boom lê nog op my huis se dak en ek sit sonder krag. Eers wanneer my versekering dit kom verwyder, kan die stadsraad kragdrade kom span en my krag weer aanskakel,” het hy vertel. Hy het gesê dat hy al vir meer as 45 jaar in sy huis woon en dat dit die eerste keer is dat ‘n boom op die erf soveel skade aangerig het. Volgens hom was dit nie weerlig nie, maar die wind wat die boom omgestoot het.

“Ek was nog ‘n klein seuntjie toe my pa die boom geplant het. Ek het die boom gesien groei, maar dit gaan nou ongelukkig heeltemal uitgehaal moet word,” het Van Rensburg gesê.

Die huis sou selfs meer skade kon opdoen indien dit die komende naweek sou reën, het hy bygevoeg. “Ek hoop nie ons kry reën nie, want daar is nou baie gate in die dak,” het ‘n bekommerde Van Rensburg gesê. Nog gevalle van bome wat in die noorde van Pretoria omgeval het, is ná die storm aangemeld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button