Local newsNews

Wapadrant-tak vier 40 jaar van vrouekrag

Die lede het teruggekyk op vier dekades van gemeenskapsdiens, vrouebemagtiging en vriendskap. Die tak, wat in 1986 gestig is, bly steeds ’n aktiewe rolspeler in Pretoria se gemeenskapslewe en kultuuraktiwiteite.

 

Die Vroue-Landbou-unie se Wapadrant-tak het vandeesweek sy 40ste bestaansherdenking gevier en hulde gebring aan vier dekades van gemeenskapswerk, vriendskap, vaardigheidsontwikkeling en diens aan vroue, inwoners en gemeenskappe in Pretoria.

Die tak is op 27 Mei 1986 gestig en het sedertdien ontwikkel tot een van die bekendste en mees aktiewe takke in die streek.

Volgens die huidige voorsitter, Tibbie Odendaal, is die herdenking nie net ’n viering van die verlede nie, maar ook van die pad vorentoe.

“Wapadrant-tak gaan voortgaan om diep spore te trap,” glo Odendaal. “Die vroue van ons tak is soos die kosmosblomme in ons wapen: elkeen ’n individuele en volmaakte skepping wat haar rol vervul volgens haar unieke talente.”

Die verjaarsdagviering is dan ook behoorlik gevier met ’n heerlike drielaagkoek met kosmosblomme as versiering.

Odendaal en die lede het teruggekyk op die jaar 1986 toe die tak gestig is. Dit was wêreldwyd en plaaslik ’n tyd van groot verandering en onsekerheid. Internasionaal is die wêreld geruk deur die ontploffing van die Chernobyl-kernreaktor in Oekraïne, terwyl Suid-Afrika een van sy mees gewelddadige jare beleef het te midde van politieke onrus, massa-optredes en ’n nasionale noodtoestand.

Nogtans het ’n groep vroue in Pretoria-oos besluit om ’n tak van die VLU te stig wat vroue sou ondersteun, bemagtig en bymekaarbring.

Die tak is deur Tutti Rudman in die lewe geroep, met Martie du Preez as eerste voorsitter. Sy is binne enkele weke deur Louwtjie Venter opgevolg. In daardie dae het die jaarlikse ledegeld slegs R12 beloop. ’n Witbrood het ongeveer R1 gekos en petrol sowat 60 sent per liter.

Odendaal het daarop gewys dat kommunikasie ook heel anders was as vandag. Uitnodigings na vergaderings en kennisgewings rondom werksaamhede van die tak is per pos gestuur, met papier, koeverte en posseëls ’n jaarlikse inskrywing op begrotings.

Anne-marie van Heerden en Lize Shaw Foto: Elize Parker

Telefoonoproepe is met landlyne gemaak terwyl telefoonnommers in dik telefoongidse opgesoek is.

Odendaal het gesê die veranderinge oor vier dekades heen wys hoe die organisasie by die tydsgees aangepas het.

“Vandag is alles elektronies. Ons gebruik selfone, WhatsApp-groepe en sosiale media om met lede te kommunikeer. Die kern van die organisasie het dieselfde gebly asook ons doel om vroue op te hef, te ondersteun en saam te laat groei,” het sy verduidelik.

Die oorhoofse nasionale VLU self het reeds in 1986 meer as 80 jaar bestaan en was lank reeds bekend vir die ontwikkeling van vroue se kennis en vaardighede deur handwerk, kookkuns, gemeenskapsdiens en kultuuraktiwiteite.

Wapadrant-tak het dié tradisie oor die afgelope 40 jaar voortgesit. Volgens die tak se geskiedenis is sowat 440 vergaderings oor die jare heen gehou. Dit sluit uitstappies, demonstrasies, werkswinkels en gemeenskapsuitreike in.

Lede het bestemmings soos die Voortrekkermonument, Ludwigs se roosplaas, Margaret Roberts se kruiesentrum en Anton Smit se beeldhou-ateljee besoek.

Internasionale temadae het lande van Finland tot Antarktika gevier en aan lede blootstelling aan verskillende kulture gegee.

Een van die groot hoogtepunte in die tak se geskiedenis was tydens die jubileumkongres van die SAVLU in 1991, toe Wapadrant-tak gevra is om verversings te voorsien vir ’n teegeleentheid wat deur Marike de Klerk en ander eregaste bygewoon is.

Odendaal het daarop gewys dat die tak oor die jare ook ’n reputasie opgebou het as ’n sterk deelnemer aan streek- en provinsiale kompetisies. Die tak het verskeie kere die prys ontvang vir die meeste punte tydens konferensies en kongresse.

“Dit is voorwaar ’n veer in die tak se hoed en elke lid kan haarself gerus op die skouer klop,” het sy gesê.

Die groep se kreatiewe gees en gemeenskapsbetrokkenheid het ook dikwels opslae gemaak. Tydens die 2010-Sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika het die tak ’n sokkerdag gehou om steun aan Bafana Bafana te toon. Lede is in die Laduma- en Ayoba-spanne verdeel en moes geblinddoek doele probeer keer.

In 2011 is die tak se 25ste bestaansjaar met ’n elegante swart-en-wittema gevier, met musiek, mimiek en musiekterapie as deel van die verrigtinge.

Odendaal het verduidelik die simboliek van die tak se nuwe vaandel, wat in 2025 onthul is, weerspieël die organisasie se waardes en visie. Die blou lug simboliseer reinheid, die groen heuwels vrede tussen lede en die wawiel die balans tussen tradisie en vernuwing. Die kosmosblomme verteenwoordig vroulikheid, sagtheid en veerkragtigheid.

Volgens haar is dit juis dié eienskappe wat die tak deur vier dekades gedra het. “Saam verseker al die lede dat die tak aanhou groei en blom. Wapadrant-tak sal voortgaan om sy plek vol te staan in Pretoriastreek en VLU Overvaal.”

 

LEES OOK: Voormalige vroedvrou kry 23 jaar tronkstraf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button