Onderwysers kry lekker kolwyntjies
Die liefdadigheidsorganisasie, Helpende Hand, se Wonderboomtak het vyf skole in die noorde van Pretoria besoek om hulde te bring aan die onderwysers wat so hard werk.

Die liefdadigheidsorganisasie, Helpende Hand, se Wonderboom-tak het Vrydag vyf plaaslike skole besoek om heerlike kolwyntjies aan hardwerkende onderwysers uit te deel as deel van hul Oktober-veldtog om onderwysers te ondersteun.
Die organisasie het ook na laerskole Wonderboom, Stephanus Roos, Magalieskruin en hoërskole Overkruin en Montana beweeg om meer as 345 kolwyntjies aan onderwysers te oorhandig.
Volgens Helpende Hand se mediaskakelbeampte, Juanita du Preez, is die projek deel van Helpende Hand se nasionale veldtog om kwaliteit-onderwys in Afrikaans te ondersteun.
Mandie Pienaar, takvoorsitter van Helpende Hand Wonderboom, het vertel dat die onderwysers die poging om hulle te trakteer, waardeer het.
“Dit is nie vandag die maklikste ding om ‘n onderwyser te wees nie en daarom wil ons vir hulle op ons manier dankie sê.”
Sakkie Jacobs, hoof van Hoërskool Montana het sy dankbaarheid teenoor die organisasie uitgespreek en het gesê dit voel goed dat hul harde werk erken word.