Local newsNews

Meisie klavier-duo beweeg van krag tot krag

'n Klavier duetpaar wat vir ses jaar lank al saam musiek maak het onlangs 'n verhoog gedeel met die Johannesburgse Simfonie-Orkes. Hulle vertel meer oor hulle ervaring, hulle passie vir musiek en hulle toekomsplanne.

‘n Klavier-duo wat vir meer as ses jaar saam musiek maak, kon onlangs nie hul opgewondenheid onderdruk toe hulle die kans gebied is om met ‘n bekende orkes op die verhoog op te tree nie.

JustDuet is die naam van die pianis paar, Miné van der Walt en Carmen van Renssen, wat onlangs by die Universiteit van Johannesburg by die 124ste Concertofees vir jong kunstenaars saam met die befaamde Johannesburgse simfonie-orkes op die planke verskyn het.

“Dit was ‘n wonderlike geleentheid om saam met die orkes op te tree,” het Van Renssen vertel oor hulle vertonings op 20 en 26 Oktober.

Sy het ook vertel dat alhoewel hulle senuweeagtig was oor die vertoning, dit gehelp het om die verhoog te deel met ‘n maat.

“Ek was darem nie so senuweeagtig as wat ek sou wees as ek alleen moes optree nie.”

Van Renssen se klavier-makker, Van der Walt, het gesê dat dit vir haar ‘n lewenservaring was om mooi te kon aantrek en die verhoog te kon deel met sulke talentvolle musici.

Sy het ook bygevoeg dat alhoewel die senuwees ook aan haar geknaag het, het dit dadelik verdwyn toe sy en haar maat begin speel het.

“Sodra jy begin speel, dan vergeet jy van alles om jou en verloor jouself dan net in die musiek.”

Die paar wat tans by musiekonderwyseres, Gisela Scriba, leer het vertel dat beide vanaf ‘n jong ouderdom klavier begin speel het.

“My boetie het klavier gespeel en ek het altyd met die klawers gepeuter totdat my ouers my na ‘n musiekonderwyser gestuur het waar ek op die ouderdom van sewe begin klavier speel het,” het Van Rennssen vertel.

Van der Walt het vertel dat haar ouers nog altyd ‘n klavier in die huis gehad het omdat haar ma ‘n ywerige pianis is.

“My ma kan klavier speel en sy het my vanaf die ouderdom van ses geleer om ook te speel,” het Van der Walt verduidelik.

Beide het vertel dat musiek hulle lewenspassie is en dat hulle beplan om nog lank musiek te maak.

Alhoewel Van der Walt meer van Jazz hou en haar makker romantiese musiek verkies, het hulle vertel dat hulle al vir ses jaar saam musiek kon maak omdat hulle baie dieselfde styl het wanneer hulle vingers oor die klawers beweeg.

Die paartjie wil nog lank saam speel as JustDuet en het vertel dat hulle beoog om volgende jaar saam deel te neem aan die ATKV se nasionale musiekkompetisie in Bloemfontein.

Van der Walt is verbonde aan Hoërskool Waterkloof terwyl Van Renssen in Hoërskool Menlopark is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button