Local newsNews

Bejaarde steeds vermis

’n Familie in Capital Park is rasend van bekommernis nadat hul stiefpa verlede Vrydag spoorloos verdwyn het.

‘n Vermiste bejaarde wat Maandag glo in die hof verskyn het, is teen Woensdag steeds soek. Sy familielede het hom egter Vrydag laas gesien.

Die 58-jarige Johan Potgieter het glo voor 10:00 Vrydag  sy huis in Capital Park verlaat om soos gewoonlik sy biblioteekboeke te gaan ingee. Dit was egter die laaste keer dat sy familie hom gesien het.

Volgens Phyllis Harvey, sy stiefdogter, is dit ‘n gewoonte van haar stiefpa om sy boeke elke Vrydag na die Mayville biblioteek terug te neem en dan nuwe boeke uit te neem. Hy stap van Capital Park na Mayville, maar kom altyd weer huistoe, het sy verneem.

Harvey het gesê haar stiefbroer het aanvanklik niks daarvan gedink toe hy sy pa nie gedurende die oggend gesien het nie, maar teen verlede Saterdag het hy baie bekommerd geraak.

“Sondag het my stiefbroer my gebel en laat weet dat my stiefpa sedert Vrydag nog nie by die huis was nie. Hy het ook geen persoonlike items soos sy selfoon of beursie saam met hom gevat nie. Alles het by die huis gelê,” het Harvey gesê.

Volgens Harvey is dit nie in Potgieter se persoonlikheid om vir dae aaneen weg te bly nie. Sy het gesê dit is die eerste keer dat hy spoorloos verdwyn het.

“Ons het hospitale, lykshuise, polisiestasies, vriende en familie gebel om te hoor of hy dalk by hulle is, maar sonder geen sukses. Ons is baie bekommerd oor hom. Ons begin nou al die ergste dink,” het Harvey gesê.

Intussen het adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisiestasie, gesê Potgieter is glo oor die naweek vir winkeldiefstal inhegtenis geneem. Hy het Maandag glo reeds in die hof verskyn. Die polisie weet egter nie waar Potgieter homself nou bevind nie. 

‘n Geskokte Harvey het gesê sy is glad nie in kennis gestel van haar stiefpa se inhegtenisneming nie.

“Ons sal later vandag ‘n familie vergadering hou en dié saak bespreek,” het sy aan Rekord gesê.

Navrae: Sersant Jaco Breetzke by 012-335-2812.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button