NewsSchools

Gauteng toppresteerder ontvang 10 A’s

Matrieks van Centurion blink uit.

Derduisende matrikulante het Dinsdag gejubel en gejuig nadat die minister van onderwys, Angie Motshekga, die finale matriekresultate bekend gemaak het.

Die top 20 matrikulante landswyd is ook tydens ’n ontbyt in Sandton bekend gemaak waarvan drie Pretorianers is.

Gauteng se toppresteerder, Willem Landman, het met 10 onderskeidings sy matriekjaar voltooi. Dié oudhoofseun van Hoërskool Zwartkop en Junior Burgemeester het onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskappe, rekeningkunde, geografie, lewensoriëntering, ekonomie en wiskunde vraestel 3 ontvang.

Volgens Hoërskool Zwartkop se hoof, Dr Dewald Strydom, wil Landman hierdie jaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer – om in die voetspore van sy ouers, albei dokters, te volg.

Strydom het ook meegedeel dat vanjaar se uitslae ’n groot oes van onderskeidings is. “Akademies het die leerlinge uitsonderlik presteer.” Verder het hy ook gesê daar is niks fout met die kurrikulum se standaard nie, hoewel die slaagsyfer nie so laag moet wees nie.

Landman is met vakansie in Italië saam met sy ouers en sal volgende week die voorreg hê om sy uitsonderlike prestasie in Suid-Afrika te vier.

Siphesihle Sithole van Makhosini School in Soshanguve, Wini-Louise Myburgh van Afrikaans Hoër Meisieskool in Brooklyn en Thabang Manamela van die Prinshof Skool het as die top drie matriekleerlinge van Pretoria feesgevier. Myburgh het ook as landswye top wiskunde-leerling weggestap.

“Ek wens die Klas van 2013 geluk toe as die beste klas sedert die begin van demokrasie, en moedig elke leerling aan om verder as hul voorgangers te presteer en die beste van hoer onderwys, die werkplek en in hul algemene bydraes tot die samelewing te maak,” het Motshekga gesê.

Leerlinge van Hoërskool Uitsig het gemengde gevoelens gehad oor hul matriekuitslae. Marko Viviers se pa, Pierre, het gesê hy gaan een van sy seun se vraestelle laat hermerk. “My seun het baie goed gevaar, maar hy het met een van sy vakke ’n onderskeiding met ’n paar present gemis, daarom het ons dit ingestuur om te hermerk.”

Hoërskool Uitsig se top drie matrieks het hulle ook goed van hul taak gekwyt. Beide Nomkhosi Mdiniso en Gideon Alers het agt onderskeiding gekry en Marco Botha het sewe. Mdiniso en Botha is vanaf graad 4 goeie vriende en saam as onderhoofleiers van die skool het hulle mekaar gemotiveer. Botha wil medies by die Universiteit van Pretoria studeer, terwyl Mdiniso, wat eintlik fanaties oor drama is, rekeningkunde wetenskap by die Universiteit van Johannesburg gaan studeer.

Motshekga het gesê nadat 562 122 voltydse matrikulante hul laaste eksamen geskryf het, het die slaagsyfer met 4,3%, in vergelyking met 2012 gestyg.

“Toe die matrikulante van vandag in 1995 gebore is, was die nasionale matriekslaagsyfer 53,4% in vergelyking met vandag se verstommende syfer. Ons mikpunt vir 2014 was 75%, maar ons het ons teiken met ’n jaar oortref,” het sy gesê.

Gauteng het ‘n 87% slaagsyfer behaal in vergelyking met 2012 se 83,9%. Dus het Gauteng ’n 3,1% verbetering getoon ’n Totaal van 85 122 Gauteng-matrieks het vanjaar geslaag.

Teenoor verlede jaar, het 17,42% meer leerlinge met universiteitsvrystelling geslaag en kan dus by tersiêre opleidingsinstansies ingeskryf.

Leerlinge het 5% beter in wiskunde gedoen as in 2012, met 2 177 onderskeidings in dié vak. Fisiese wetenskappe het ook ’n groot verbetering getoon met ’n slaagsyfer van 76%.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button