Bulls speel kritici stil teen gevaarlike Blues
Nadat die Bulls en hul bestuur baie kritiek moes verduur in die eerste twee wedstryde van vanjaar se SuperRugby toernooi, het hulle Saterdag voortgebou op hul oorwining teen die Leeus deur die Blues van Nieu-Seeland oortuigend te klop én 'n bonuspunt vir vier drieë te verdien.
Twee weke is ‘n baie lang tyd in rugby. Frans Ludeke, afrigter van die Bulls, verstaan hierdie feit baie goed ná meer as ‘n dekade as een van die land se top afrigters, maar dis duidelik dat duisende mooiweersondersteuners van die Bulls dit nog nie kan begryp nie.
Sommige Bulls-ondersteuners is baie soos ’n bederfde kind. Hulle het geen geduld nie en hul selfsug en egosentriese leefwyse veroorsaak dat hulle aan die skree en raas gaan elke keer as hul span swak vertoon. Intussen besef hulle nie hoe bevoorreg hulle is om te kan spog met ’n span wat oor die afgelope vier dekades meer trofees gewen het as enige ander span in Suid-Afrika nie.
Hierdie trofees het nie sommer vanself in Loftus Versfeld se trofeekas beland nie. Dit is deur die harde werk van afrigters en spelers oor die jare heen verdien. Juis as gevolg van die sukses van die Bulle oor die jare heen het die mooiweersondersteuners blykbaar begin glo dat dit hulle reg is om elke jaar te kan spog met ’n span wat trofees wen. As daar dan die einde van ’n baie suksesvolle era aanbreek en die afrigter en bestuur moet nuwe bloed inbring en nuwe sterre kweek, begin hierdie bedorwe ondersteuners op en af te spring en te raas, want hulle wil élke jaar wen. As dit nie kan gebeur nie, is die afrigter slegter as ’n reeksmoordenaar en spelers se karakter word op openbare forums verguis.
Goed, dit is ’n feit dat daar foute gemaak is met die huidige oorgangsfase by die Bulls en die bestuur het sekerlik duur lesse daaruit geleer. Maar vir Jan Alleman om dan sy frustrasie te wys deur afrigters, wat ’n jaar of wat gelede nog helde was, te verguis en sleg te sê, is kleinlik en dit getuig van onkunde.
Ná Saterdag se puik vertoning deur die Bulls, waarin hulle die gevaarlike Blues van Auckland in Nieu-Seeland oortuigend met 38-22 geklop het én in die proses vier drieë gedruk het vir ’n bonuspunt, lag Frans Ludeke sekerlik lekker in sy mou. Probleem is net dat hy te ordentlik is om dit in die openbaar te doen en vir al die doemprofete tong uit te steek.
Ludeke het sedert die begin van die jaar aanhoudend gevra vir geduld en hy het sy spelers en die span se spelpatroon probeer verdedig, maar niemand wou luister nie. Hy is nie ’n man wat graag verskonings maak nie, maar as ’n mens mooi na hom geluister het, het hy probeer sê dat die Bulls drie weke in ’n ry in ongewone omstandighede (nat velde en reënweer) moes rugby speel en dat hulle nie werklik so swak was soos baie mooiweersondersteuners wou glo nie. Ludeke het ook erken dat sekere spelers sukkel om op dreef te kom, maar hy het hard en duidelik bly sê dat hy glo in die kwaliteit van daardie spelers en dat hulle mettertyd weer op vorm sal kom.
Hy het intussen die moed gehad om diegene wat duidelik nie die mas opgekom het nie, weg te laat. ‘n Sleutelspelers soos Deon Stegmann is ook genoeg tyd gegun om van sy besering te herstel en Ludeke het erken dat die 30 minute wat Stegmann op die veld was in die opwarmingswedstryd teen die Stormers in Pietersburg, bewys het dat hy ’n kroonrat in die Bulls-masjien is, wat beslis ’n groot verskil maak as hy wel op die veld is.
Ja, daar is nog leemtes op Loftus Versfeld, soos die feit dat daar nie ’n waardige plaasvervanger vir Deon Stegmann op die Bulls se betaalstaat is nie. Hulle is ook gelukkig dat Jacques-Louis Potgieter puik op vorm is en die geleentheid bied om Handré Pollard stelselmatig aan rugby op hierdie vlak bekend te stel. Dan is daar nog die geval van William Small-Smith, waarskynlik een van die talentvolste rugbyspelers jonger as 23 in wêreldrugby, wat om een of ander rede deur die Bulls bestuur op die agtergrond gehou word.
Op die keper beskou kan Bulls-ondersteuners egter weer glimlag ná Saterdag se vertoning. Dié wedstryd was ’n bewys dat daar genoeg talent en vaardigheid onder die spelers is en dat die bestuur, met Frans Ludeke aan die spits, genoeg ervaring het om teen die einde van Julie vanjaar beslis weer ’n kandidaat behoort te wees as die uitspeelrondtes aanbreek.
