KI en leerders: Moet KI met huiswerk help?
'n Kenner glo wanneer dit by huiswerk kom, die werklike uitdaging vir ouers lê nie daarin om elke KI-instrument uit die huis te probeer hou nie. Dit lê daarin om seker te maak dat wanneer ’n kind wel KI gebruik, die kind steeds die een is wat dink, besluit, leer en uiteindelik verantwoordelikheid neem.

Kunsmatige intelligensie (KI) het binne ’n kort tyd van ’n nuwe tegnologiese verskynsel verander in ’n alledaagse hulpmiddel wat reeds ’n plek in baie kinders se leer- en huiswerkwêreld ingeneem het.
Vir ouers is die vraag daarom nie meer bloot of hul kinders KI gebruik nie, maar hoe dit gebruik word, of die kind steeds self dink en of tegnologie besig is om die leerproses oor te neem.
Terwyl skole en onderwysleiers worstel met die geleenthede en gevare wat KI bring, moet ouers terselfdertyd leer hoe om kinders deur dié nuwe werklikheid te begelei.
Die gesprek het in die laaste week van Augustus besondere betekenis gekry tydens die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie se Damesleierskapseminaar en Hoofdesimposium in Gqeberha.
Die kern van die gesprek was nie of KI bloot toegelaat of verbied moet word nie. Dit het gegaan oor die vermoë van leerders om tegnologie te gebruik sonder om hul eie denkvermoë, verantwoordelikheid en akademiese integriteit prys te gee.
Jean Viljoen, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie se Kunsmatige Intelligensie-beampte, sê die belangrikste vraag behoort nie te wees of ’n kind ChatGPT gebruik nie, maar wat met die gebruik daarvan gebeur.
Viljoen fokus op die verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie in die onderwys.
“Die belangrikste vraag is eerder: Hoe gebruik my kind KI, en wat leer hy of sy daaruit?” benadruk hy.
Hy wys daarop dat ’n kind wat KI gebruik om ’n onderwerp beter te verstaan, anders kan leer as een wat bloot ’n volledige antwoord laat genereer en dit sonder begrip indien.
“Moenie slegs sê ‘Geen KI en basta!’ nie. Vra liewers die regte vra,” doen Viljoen aan die hand.
Sy raad is dat ouers hul kinders moet vra om te wys wat hulle vir die KI-instrument gevra het, wat die antwoord was en wat hulle daarna met daardie antwoord gedoen het.
“Die onderskeid is belangrik. As die kind die skerm afsit en steeds kan verduidelik wat geleer, gedoen en besluit is, het die tegnologie moontlik die leerproses ondersteun. Indien die kind egter nie die werk sonder die hulpmiddel kan verduidelik nie, ontstaan ’n groter probleem,” glo hy.
Hy glo kinders leer immers nie slegs wanneer hulle die regte antwoord kry nie. “Hulle leer wanneer hulle self probeer, foute maak, probleme oplos, lees, skryf, redeneer en hul werk verbeter. Daarom behoort die eerste stap by huiswerk dikwels eenvoudig te wees: probeer eers self.”
Hy verduidelik KI kan daarna gebruik word om ’n verduideliking te kry, terugvoer te ontvang, ’n ander benadering te ondersoek of ’n moeilike begrip op ’n eenvoudiger manier te laat verduidelik.
“KI moet ’n maat vir jou kind se denke wees en nie ’n plaasvervanger nie,” waarsku Viljoen.
Dit beteken egter nie dat elke huiswerkopdrag dieselfde benadering tot KI vereis nie. Die doel van die taak moet bepaal hoe die hulpmiddel gebruik mag word.
Vir hom ontstaan die probleem wanneer leerders nie meer weet waar hul eie werk eindig en die masjien se werk begin nie.
“Leerders moet vooraf weet wat toegelaat word, wat verklaar moet word en watter bewyse van hul eie denkproses hulle moet kan lewer,” sê Viljoen.
Hy wys daarop dat die belangrikste vraag is nie altyd of KI gebruik is nie, maar of die leerder die finale werk verstaan en verantwoordelikheid daarvoor kan aanvaar.
Viljoen stel ’n eenvoudige benadering voor: vra, verifieer en vergelyk.
Hy glo kinders moet leer om belangrike feite na te gaan, die inligting met betroubare materiaal te vergelyk en ’n onderwyser of ander kundige te raadpleeg.
“Hoe makliker antwoorde word, hoe belangriker word kritiese denke oor daardie antwoorde.”
Die ander groot kwessie is privaatheid. Kinders kan maklik vergeet dat ’n kletsvenster nie ’n plek is waar persoonlike inligting sommer gedeel behoort te word nie.
“Ouers behoort kinders te leer om versigtig te wees met name, punte, skoolverslae, foto’s, stemopnames, leerondersteuningsinligting en ander persoonlike besonderhede. Die ouderdom van die gebruiker moet ook in ag geneem word. Ouers moet weet watter hulpmiddels hul kinders gebruik, watter ouderdomsvereistes geld en of die toepassing geskik is vir hul kind.”
Die verantwoordelikheid van ouers en onderwysers is daarom om kinders toe te rus om die tegnologie met oordeel te gebruik.
Vir Viljoen beteken bemagtiging nie dat kinders onbeperkte toegang sonder leiding moet hê nie. Dit beteken dat hulle moet leer om vrae te vra, antwoorde te bevraagteken, hul eie denke te ontwikkel en verantwoordelikheid vir hul werk te aanvaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel