Elections 2014Local newsNews

Kiesers in ooste laat hul stemme geld

Oud en jonk het Woensdag reeds douvoordag by stemlokale saamgetrek om hul stemme in die vyfde demokratiese verkiesing te laat geld.

Inwoners van die ooste van Pretoria kon skaars wag om Woensdag hul stemme te laat geld.

Stemlokale was stampvol en inwoners het in lang rye, wat straatlangs deur woonbuurte gekronkel het, gestaan en wag om hul kruisies tydens die vyfde demokratiese verkiesing te trek.

Oud en jonk was douvoordag uit die vere, gewapen met hul groen ID-boekies en slaggereed om inkmerkies op hul duime te laat maak.

Terwyl stemdag in die meeste dele van die Ooste vlot verloop het, het die stemproses in Wekker straat, het vol gebreke afgeskop. Die Onafhanklike Verkiesing Kommissie (OVK) het nie om ses uur hul materiaal gehad om die stembusse te bedryf nie.

Die stempels waarmee die agterkant van die stembriefies gestempel moes word was ook nie daar nie. Hulle het net een eazyscan masjien, wat veronderstel is om bevestiging te gee dat ‘n persoon by die betrokke stemlokaal geregistreer het. Dié stemlokaal het glo ook nie genoeg seëls gehad om die stembusse te verseël nie en ook nie genoeg stembriefhouers gehad nie.

Dié probleem is glo om 08:00 opgelos terwyl die stembusse veronderstel was om reeds teen o7:00 oop te wees.

Met Rekord se besoek hier was die deursit van kiesers sowat 100 per uur.

Selfs sprake van ongerymdhede by dié kiesstasie het gou die rondte gedoen dat die provinsiale en nasionale stemme alles in een stembriefhouer beland het.

Na wat verneem word is daar inderhaas nog stembriefhouers van Johannesburg bestel, maar met Rekord se besoek was dit nog nie daar nie.

By navraag by Michelle Middleton, hoofkiesbeampte , waaronder Wekkerstraat val, het sy gesê, dat sy nie daarvan bewus was dat daar ‘n tekort aan stembriefhouers was nie.

Sy het gesê dat die partyleiers en hoofkiesbeampte by die Wekker straat stemlokaal as gevolg van die tekort van stembriefhouers ingestem om die Provinsiale en Nasionale stembriewe in een stembus te gooi.

”Dit skep uiteraard onnodige werk omdat dit later weer van mekaar geskei moet word,” het sy gesê.

By Fleur laerskool in Lyttelton, het die N.G. Kerk gemeente die geleentheid aangegryp om met pannekoek en worsrolletjies geld vir dié kerk in te samel.

Welmari Bouwer (21), ‘n Honneursstudent in Sielkunde aan Tukkies, was een van die wat vir die eerste keer gestem het. Sy het egter, soos ‘n gesoute kieser, goed voorberei vir dié belangrike dag. Terwyl haar ma in die ry gestaan het, het Bouwer op ‘n kombers op die sypaadjie uitgespan en vir ‘n toets, wat sy op 8 Mei skryf, geleer. “Ek is baie opgewonde om hier te wees,” het Bouwer aan Rekord gesê.

Sommige ouers was ook goed voorbereid en het die lang rye met stootwaentjies, doekesakke en speelgoed om die kinders mee te vermaak, aangedurf. Jacques en Elizna Bouwer en hul dogtertjies, Lariska en Klara, was gelukkig om slegs vir ‘enkele minute in die ry te staan voordat verkiesingsbeamptes hulle geroep het om voor in die ry te staan.

Juanita Pretorius en haar man, Frik, wat in 1994 vir die eerste keer hul kruisies getrek het, het gesê hulle is opgewonde om weer te kan stem. “Ons gee nie om om in die rye te wag vir ons beurt nie — elke stem tel,” het Juanita gesê.

Gerrit en Nellie Geldenhuys het saamgestem. “Ons stem nog elke keer. As mens nie stem nie, is dit outomaties ‘n stem wat na ‘n ander party gaan,” meen Nellie. “Ons voel almal behoort te stem, veral ná alles wat onlangs in ons land gebeur het.”

Dat Rachel Matsitsimela nie in haar tuisdorp, Bloemfontein, was vir die verkiesing nie, het haar nie gekeer om haar kruisie in die verkiesing te trek nie. Sy het by haar ma, Nelly Malapane, in Pretoria gekuier toe hulle gaan stem het.

Vir baie jong mense van die ooste was dit hul heel eerste keer wat hul kon stem. Broer en suster Graham (18) en Geraldine (20) Murray was opgewonde om vandag in Moreletapark te kon stem.

Om twee ure lank in ‘n ry by die St Alban’s College in Lynnwood Glen te wag, kon Geraldine Kruger en Chené Lee se opgewondenheid ook nie blus nie.

Twee born-free’s (wat ná 1994 gebore is) was ook vroeg uit die vere om te stem. Sean White en Cassie Upton (albei 19-jaar oud) het ná hulle hul kruisies op die stembriewe gemaak het aan Rekord gesê hulle voel trots om te kon stem. “Deur te stem voel dit of ons regtig deel is van die verskil wat ons in die land wil sien.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button