EntertainmentLifestyle

Marcel Dednam gesels oor sy musiek en op sy eie voete te staan

Een van die komposisies wat Dednam gaan aanbied, Dovetail, is geïnspireer toe ’n duif een keer by die kamer ingevlieg het terwyl hy besig was om op die klavier te eksperimenteer.

Komponis, musiekverwerker, dosent en musikant van Pretoria, Marcel Dednam, sal op 2 en 3 Oktober by die Oorsprong Fees by die Aardklop Ouditorium in Potchefstroom sy eie komposisies aanbied.

Dednam sal ’n eklektiese mengsel van komposisies, waarvan die meeste in die jazz styl verwerk is, aanbied, van jonk tot oud, sowel as liedjies wat nie sy eie is nie.

Die kunstenaar sê hy het veral een van sy eerste liedjies, Slight Funk van sy album Blue Bird, gekies. “Dit was eintlik die eerste jazz-stuk wat ek in 2013 gekomponeer het.”

Dednam noem ook sy 2017-komposisie, Dovetail, en hoe dit ontstaan het.

“Die denkproses of inspirasie agter dit het gebeur toe ek een keer gesit en eksperimenteer het op die klavier, en ’n voël op die daardie oomblik by die kamer ingevlieg het.

Marcel Dednam agter die klavier. Foto: Verskaf

Dit was ’n duif wat daar gesit en koer het, so die noot wat ek gekomponeer het klink soos die klank wat dit maak.”

Dednam het ook vertel oor die aanbieding van nuwe melodieë, en koppel dit aan die tema van die vertoning, sy musikale reis en op sy eie voete te staan as ’n kunstenaar.

“Ek gaan ’n paar liedjies opvoer wat ek nooit vantevore opgeneem het nie. Ek dink dit is die hele uitgangspunt van hierdie vertoning.”

Hy noem ’n stuk, Uncertainty, wat hy gekomponeer het gedurende sy musikale reis. “Dit is een van die nuwes wat ek nog nie opgeneem het nie, wat ook tydens die Covid-19-tydperk gekomponeer is.

Dit gaan oor om nie bang te wees nie, sowel as die hele doel van vreeslose selfvertroue. Ons moet meer ‘ja’ sê in die lewe. Dus praat daardie komposisie eintlik baie daaroor,” verduidelik hy.

“Dit is die eerste keer wat ek op my eie voete as musikant of as kunstenaar staan om my musiek ten toon te stel.”

Marcel Dednam glimlaggend agter die klavier. Foto: Verskaf

Die musikant sê hy sal nie net sy eie musiek speek nie, maar ook ’n Beatles-liedjie en ’n Afrikaanse liedjie saam met Anna Davel, onder andere.

“Ek het een van haar stukke gevat en dit as jazz verwerk,” sê Dednam. Hy noem dat jazz nie die enigste genre in die konsert sal wees nie, met funk, samba en blues wat ook ingesluit word.

Hy noem ook sy mede-musikante op die verhoog en sê dat hy uitsien om saam met hulle te werk.

“Die musikante is beslis die moeite werd om te noem. Ek het die voorreg om die verhoog te deel met Werner Spies op bas, Peter Auret op tromme, en die twee gaskunstenaars, Anna Davel en Deryn Dednam, my vrou, wat ’n saksofonis is.”

Luister hier na Dednam se musiek: https://open.spotify.com/artist/1rbp82nVfxsDb0nqO24IHm

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button