Pretorianers staan tou by stembusse
Pretorianers was oor die algemeen positief oor hul stemdagondervindings.
Stemdag was sedert 07:00 vanoggend in volle swang toe Suid Afrikaners regoor die land begin toustaan het om hul stemme te laat geld.
Die ry vir Colbyn se stembus het al van 06:30 begin lank raak toe burgers van dié gebied nader gestaan het vir die groot dag.
Een van die kiesers, Lemi Sathekge, was opgewonde oor die dag. “Dit is baie belangrik om vroeg te wees sodat ons nie te lank in die ry hoef te staan nie. Ek is baie opgewonde omdat adjunk-president Motlanthe hier gaan wees,” het Sathekge gesê.
Twee studente aan die Universiteit van Pretoria Corné Visser en Dirk Viljoen stem dié jaar vir die eerste keer. “Ons is opgewonde om vir die eerste keer te stem en dis baie ‘cool’ dat ons in dieselfde ry staan as adjunk-president Motlanthe,” het Viljoen gesê.
By die stembus by Laerskool Wonderboom-Suid het ‘n rustiger atmosfeer geheers.
Bittermin mense het nodig gehad om enigsins tou te staan om te stem, terwyl die skool ook pannekoek en koffie buitekant te koop aangebied het.
Kirsty Agnew het ook vir die eerste keer gestem, terwyl Courtney Johnson vir die eerste keer in Suid Afrika gestem het. “Ek was oorsee met die vorige verkiesing en het toe daar gestem. Hierdie is die eerste keer dat ek in Suid Afrika stem. Ek studeer politieke wetenskappe , dus is nog bietjie onseker vir wie om te stem,” het Agnew gesê.
Ek weet nie veel van die kleiner partye nie, so sal seker vir ‘n groter party stem,” het Johnson gesê.
Meeste van die kiesers was optimisties oor die toekoms van Suid Afrika.
Theunis McDolnald en sy vrou, Heleen, meen dat hulle versigtig optimisties is oor die toekoms, terwl Madelein en Ryan Davis glo dat die ‘regte party’ gaan wen. “Ons het ‘n baie positiewe stemdag gehad, dit het vinnig gegaan en dit was goed georganiseerd,” het Ryan Davis gesê.
Baie inwoners in die weste van Pretoria het hulle kruisies op Woensdag in die 2014-verkiesing gaan trek.
Inwoners het reeds van 05:00 in die ry gestaan om te stem. Sommige was egter omgekrap dat die stemlokale eers ná 07:00 geopen het. Hulle moes dus heeltyd in die koue staan. “Die OVK is laat en dit is pateties dat ons in so lank in die ry moet staan. Hulle moes sewe-uur open maar hulle hardloop nog steeds rond,” het verskeie inwoners gesê.
Hulle het ook gesê hulle hoop dinge sal verander nadat hulle gestem het, want hulle stemme tel.
“Ek voel opgewonde om te stem. Ek het vir my ma gesê ek wil stem want my stem gaan gewis ‘n verskil maak,” het Taleen Jacobsohn gesê wat vir die eerste keer gestem het.
Catharine Bako het aan Rekord gesê sy glo dit is haar reg om te stem en as sy nie stem nie, wie gaan dit vir haar doen. “My stem tel, dus het ek gestem. Ek het vir die party gestem wat verandering in ons land gebring het.”
Die uitvoerende burgemeester van Tshwane, Kgosiento Ramokgopa, het inwoners gelukkig gemaak deur in sy tuisstad, Pretoria, te stem – hy en sy gesin het in Atteridgeville gestem.
Die atmosfeer by al die stemlokale was kalm en inwoners het in groot getalle opgedaag om te stem. Daar was geen ontwrigting nie. Hoewel plakkers vroeer gesê het hulle gaan moeilikheid maak. Inwoners het gesê dit is hulle reg om te stem en hulle oefen daardie reg uit.

