Vrygebore Generasie student gee haar stem
'n Student van die Universiteit van Pretoria het vandag vir die eerste keer gaan stem.

‘n Vrygebore generasie student van Pretoria het vandag vir die eerste keer gaan stem, presies 20 jaar nadat haar ma in 1994 in die eerste demokratiese verkiesing van Suid-Afrika gaan stem het.
Karla Bekker was maar ses weke oud toe haar ouers, wat in die stadium in Singapoer gewoon het, gaan stem het vir ‘n demokratiese Suid-Afrika.
Karla se pa, Johan Bekker, het diplomatieke diens vir buitelandse sake gedoen toe Karla in Singapoer gebore is en dit was met ‘n gevoel van opgewondenheid dat hy en sy vrou, Lindi-Lee, vir Suid-Afrika se toekoms gaan stem het.
Karla, tans ‘n student aan die Universiteit van Pretoria, het vir Rekord gesê dat sy opgewonde was om vir die eerste keer te gaan stem.
“Ons nasionale embleem se leuse sê éenheid en diversiteit en dit is wat ons in Suid-Afrika wil hê. Ek het gebid dat vandag sal verloop soos dit moet. Ons land is in God se hande en ek glo dat hierdie verkiesing sal verloop soos dit moet. Elke stem sal ‘n verskil maak en almal moet saamstaan vir ons land,” het Karla gesê.
Lindi-Lee, Karla se ma, het vir Rekord gesê dat dit vir haar ‘n voorreg was om vandag saam met Karla en die res van hul gesin by Laerskool Pierneef te gaan stem.
“Ons is baie trots op Karla. Sy is trots op haar land en haar erfenis,” het Lindi-Lee gesê.
