Die blitsige optrede van die polisie en Pretoria-Wes Sektor 1 het daartoe gelei dat ‘n bakkie wat Donderdag-oggend in Kwaggasrand gesteel is nog dieselfde dag aan sy bejaarde eienaar terugbesorg is. Dit na nog ‘n bakkie dieselfde oggend in Pretoria-Wes gesteel is en ‘n ander amper in Danville deur vier mans gebuit is.
Volgens Koos Goosen van Sektor 1 is die 1400 Datsun-bakkie wat by ‘n winkelsentrum in Kwaggasrand gesteel is binne ‘n paar uur in Lotus Gardens gevind.
“Die polisie het die bakkie in ‘n erf in dié woongebied gevind,” het hy gesê.
Volgens Carel Muller, ook van Sektor 1 en seun van die bejaarde wie se bakkie terugbesorg is, gebruik sy pa die bakkie elke dag vir instandhoudingswerk wat hy by Laerskool Kwaggasrand doen. “Dit was maklik om die bakkie uit te ken. Die bakkie is geel en op sy klap agter staan ‘Datsun’ in rooi geskryf.”
Volgens Goosen is die Nissan Hardbody wat in Mitchellestraat, Pretoria-Wes gesteel is nog nie teruggevind nie. Die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir dié gesteelde bakkie met registrasie nommer HKG 907 GP. Enige inligting kan per sms aan 072-643-1269 of 072 642-9114 gestuur word.
