CrimeNews

Vermeende inbreker gevang

Die polisiëringsforum van Lyttelton gaan seker maak geregtigheid geskied.

’n Verdagte is vroeg Maandagoggend in Kloofsig gearresteer nadat hy en sy medepligtige glo gif oor ’n muur gegooi het, moontlik in ’n poging om later by die huis in te breek nadat die honde buite aksie gestel is.

Die gemeenskap en polisiëringsforum is in hulle noppies met die arrestering. Volgens Lourens Botha, voorsitter van die subforum van die Lyttelton-polisie-sektor 2-gemeenskapspolisiëringsforum, gaan hulle die saak dophou om vervolging te verseker. “Ons hou die vervolging van gearresteerdes deur die regstelsel fyn dop om te verseker dat hulle nie weer vrygelaat word vanweë administratiewe ondoeltreffendheid nie.”

Volgens Burger Genis, ’n inwoner van die Hoewes en lid van die Radio on Call-buurtwag in Kloofsig, is die buurtwag omstreeks 03:00 in kennis gestel dat die twee verdagtes in Unionlaan gesien is.

“Die huiseienaar het vroegoggend wakker geword vanweë sy honde se geblaf en gesien hoe twee mans gif oor sy muur gooi. Gelukkig kon hy betyds die gif verwyder voordat die honde dit kon vreet,” het Genis gesê.

Die buurtwag het binne ’n enkele minute gereageer, maar die mans was toe reeds skoonveld. Hulle het vir meer as ’n uur na die verdagtes gesoek en een vasgetrek, maar sy kameraad het weggekom.

Genis het gesê huisinbrake en die vergiftiging van honde is ’n groot kopseer in die omgewing. Die gemeenskap dring daarop aan dat sake van hierdie aard deeglik ondersoek word en dat skuldiges aan die pen ry.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button