
’n Bejaarde vrou (63) vrou is vasgebind en geslaan toe ses mense haar Maandagmiddag in haar huis op Bultfontein, noord van Pretoria, oorval het.
Die vrou was glo alleen in haar huis toe twee blanke mans (na bewering in hul laat tienerjare), drie swart mans (tussen die ouderdom van 30 en 31) en ’n blanke 39-jarige vrou by haar hek in ’n swart Mitsubishi Colt stilgehou het, het polisie woordvoerder kontabel Herman Moremi aan Rekord gesê.
“Die vrou het uitgestap om te hoor wat hulle wou hê. Hulle het haar gevra of sy weet van enige pandjieswinkels in die omgewing. Die vrou het nee gesê. Daarna het een van die blanke mans vir water gevra. Dis toe dat die vrou besef daar is ‘n skroef los,” het Moremi gesê.
Enkele oomblikke daarna het die verdagtes oor haar hek gespring. Die vrou het blitsig op die tweerigtingradio om hulp geroep.
Die verdagtes het die huis ingehardloop en twee messe in die kombuis gegryp. Hulle het die verwilderde vrou met die mes aangehou terwyl hulle haar gesig met ’n jas toegemaak en haar vasgebind het.
Hulle wou toe weet waar die kluis se sleutels is. “Die verdagtes het haar op die arm met ’n onbekende voorwerp geslaan toe sy gehuiwer het om hulle te antwoord,” het Moremi gesê.
Geskok en in vrees het die vrou ingegee en vir hulle gesê die sleutels is onder haar kopkussing. Die verdagtes het die kluis oopgesluit en met R1 000 se note en R30 se munte op vlug geslaan.
“Die vrou het gewag tot alles stil was. Nadat sy haarself losgemaak het, het sy gesien lede van die gemeenskap het opgedaag. Hulle het die twee blanke mans en een van die swart mans vasgetrek. Die polisie is ontbied en die blanke vrou en nog ‘n swart man is gearresteer. Een verdagte is nog op soek,” het Moremi gesê.
Die verdagtes word by die Hamanskraal-polisie aangehou en sal binne kort in die hof verskyn.
