CrimeLocal newsNews

Arrogante rower vas maar vra steeds geld

Eers probeer hy roof en toe vra hy geld.

‘n Man is steeds verstom oor die vermetelheid van ‘n rower wat, nadat hy sy besittings probeer steel het, hom vir vervoergeld gevra het.

Cornelius van Niekerk en sy vrou het oudergewoonte blomme op sy skoonma se graf gaan sit toe ‘n onbekende man verlede Vrydag by die Heatherdale-begrafplaas waardevolle besittings uit hul motor probeer steel het.

“Ons probeer om weekliks nuwe blomme op haar graf te sit en die graf netjies te hou,” het Van Niekerk gesê.

Terwyl sy vrou besig was met blomme by die graf, het Van Niekerk ‘n man binne in hul motor opgemerk.

“Ek kon sien die man was besig om in ons kar te krap en ek het op hom geskree. Dis toe wat dié man begin harloop het,” het hy gesê.

Volgens Van Nierkerk was die motor sowat tien meter van die graf geparkeer.

Van Niekerk, wat self voorheen ‘n misdaadslagoffer was, het gevoel hy het genoeg gehad en besluit om die man agterna te sit.

Die vermeende rower het intussen oor die heining van die begraafplaas probeer spring toe Van Niekerk hom in gehaal het en hom van die heining af getrek het.

“Hy het gestoei, maar ek het sy arm agter sy rug gedruk en op hom gaan sit.”

Volgens Van Niekerk het dié rower in Afrikaans om verskoning gevra voordat hy Van Niekerk se selfoon vir hom gegooi en by Van Niekerk gepleit het om hom te los.

Van Niekerk se vrou het intussen die polisie glo verskeie kere probeer kontak.

Volgens Van Niekerk het hy by die rower vir 30 minute vir die polisie gewag voordat hy besluit het om ‘n foto van hom te neem en hom te laat gaan.

Die rower het volgens Van Niekerk rustig opgestaan en hom boonop geld gevra om huis toe te gaan.

“Ek kan nie sy vermetelheid glo nie.”

Volgens Van Niekerk het die polisie tot nou toe nie die saak opgevolg nie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button