CrimeNews

Man in hospitaal aangerand

Hy wou hom vertroetel soos ’n vrou, maar toe rand hy hom aan.

’n Bejaarde man moes met ’n knipmes en pepersproei onder sy kopkussing in die Tshwane-distrikshospitaal slaap nadat een van die ander pasiënte hom glo aangerand het omdat hy geweier het dat dié hom vertroetel.

Die 68-jarige *Dawid Joubert van East Lynne is op 2 Mei vir ’n kniegbesering in die Tshwane-distrikhospitaal opgeneem en het tot die dag wat hy ontslaan is op 10 Mei in vrees gelewe. “My pa was so erg getraumatiseerd en bang dat ons pepersproei en ’n knipmes vir hom gevat het indien hy homself moet verdedig,” het *Heleen Basson, sy dogter, gesê.

Die pasiënt, slegs bekend as ‘Gertjie’, wou Joubert vertroetel, maar nadat Joubert geweier het, het Gertjie hom aangerand. “My pa het om hulp geroep waarna die verpleegsters vir Gertjie in sy bed vasgemaak het. Dit was baie traumaties vir my pa gewees,” het sy gesê.

Gedurende besoektyd het Basson vir Gertjie gevra waarom hy haar pa aangerand het. Sy antwoord was dat hy hom net soos ’n vrou wou vertroetel.

’n Ander pasiënt weer het Joubert se knipmes en selfoon onder sy kopkussing uitgesteel, maar Basson het dit gelukkig teruggerky.

“Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte in sulke omstandighede moet vertoef. Daar was selfs ’n pasiënt wat sy ontlasting teen die mure gesmeer het,” het Basson gesê.

Zandile Mthimunye, die woordvoerder van die Tshwane-distrikshospitaal, het gesê hulle is besig om die saak te ondersoek.

*Skuilname is gebruik om die identiteit van die inwoners te beskerm.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button