CrimeNews

Rower en bejaarde skiet mekaar dood

Na 'n rower en bejaarde op mekaar geskiet het, het dit noodlottige gevolge gehad.

Ralie Groenewald (72) van Boschkop-landbouhoewes het Dinsdag verslae by haar kombuistafel gesit toe Rekord daar opdaag en vertel van die wrede aanval waartydens haar man Charles (76) deur ‘n gewapende rower doodgeskiet en sy deur ‘n ander verwurg is.

Met haar keel nog dik geswel, het sy vertel hoe die rustige landelike omgewing in ‘n miernes van soekendes na die tweede aanvaller omskep is nadat een van die die aanvallers kort na die voorval ‘n ent weg dood aangetref is met ‘n bloeddeurdrenkte polisiebaadjie nie ver van sy liggaam af nie.

Groenewald vertel dat sy Maandag omstreeks 09:45 by haar man in die kamer besig was om hom te versorg.

”Sowat 15 jaar gelede, toe my man nog gewerk het, is hy gekaap en in die been geskiet. Dit het amper sy dood gekos. Sedertdien het hy ‘n probleem met sy voet gehad,” vertel sy.

”Met die twee rooftogte wat ons die vorige week in dieselfde omgewing gehad het, het hy die nag vreeslik onrustig geslaap. En sedert hy gekaap is, het hy altyd sy .38-rewolwer by hom gehad. Ek het pas nog ‘n warmwatersak vir hom voorberei toe die klokkie lui. Dit was die twee rowers,” vertel sy.

Charlie Dealers, die Groenewalds se winkeltjie, is deel van hulle huis. Sy het na die winkel gestap om die kliënte te bedien.

”Die mans wou meel koop. Ek kon nie die sak meel deur die nou opening van die tralies stoot waardeur ek normaalweg negosieware stoot nie. Ek het toe die sy-deur oopgemaak sodat hy die sak kon kry. Hy vra toe nog: ‘Kan ek die sak kry?’ Ek sê toe vir hom ‘ja, jy kan die sak kry.’ Die volgende oomblik was altwee bo-op my. Die een druk my keel toe maar ek gil. Die ander een los my toe en gaan na die slaapkamer. Toe gebeur alles net te vinnig,” vertel sy.

Sy vertel dat die afleweringsvoertuig wat vir haar brood bring dieselfde oomblik as wat die skote geklap het by die winkel se hek stilgehou het.

”Toe die bestuurder die skote hoor, het hy vinnig agteruit gery, ook maar bang. Hy het by die eerste buurman stilgehou en vreesbevange vertel wat hy gehoor het. Dié skakel toe Concert, ons buurtwag, en almal in die omgewing. Dit was net ‘n rukkie toe is die polisie en al die buurtwagmense hier, maar toe was alles reeds verby, en my man dood.”

”Toe ek gegil het en die ander rower na die kamer gehardloop het, was my man nog in die bed. Die een by my hou aan om my keel toe te druk, maar ek hou aan met gil. Elke keer as ek asem kry, dan gil ek weer. Toe die een rower in die kamer kom, het my man hom geskiet en hy vir my man. Dit was op presies dieselfde oomblik en ek kon na die aanval nie vir die polisie sê of ek een of twee skote gehoor het nie.’’

Sy het gesê dat sy goed onthou hoe die een rower, nadat die skote geklap het, by die slaapkamer uitgestrompel het.

”Hy is raakgeskiet. Die een op die vloer los my toe en sonder dat hulle enigiets vat, help die een wat my gewurg het sy maat by die huis uit. Hy abba die een wat geskiet is die pad af en daar onder, toe hy seker te swaar geword het, het hy hom gelos en verder gevlug. Die polisie het die een wat in die slaapkamer was dood langs die pad gevind. Hy is in die maag geskiet. Sowat 300m verder het die polisie ‘n polisiebaadjie vol bloed en die leë vuurwapenskede gekry. Die een wat my vasgedruk het, is ‘n groot, ietwat gesette, man met ‘n skoon gesig,” het sy vertel.

Sy vertel dat toe sy na die aanval na die slaapkamer hardloop, sy haar man op sy knieë in die hoek van die slaapkamer gekry het.

”Ek sien toe daar is niks wat ek kan doen nie. Ek was te verbouereerd om aan hom te vat. Dit is toe dat my buurman Johan Graaff en sy vrou Joan, wat deur die broodafleweringsman ontbied is, by die deur instorm en oorneem.”

‘n Ander buurman, net bekend as Richard, en sy vrou Debra, het ook opgedaag, vir Groenewald weggestoot en dadelik mond-tot-mond-asemhaling op haar man toegepas.

”Hulle het hom probeer bybring. Dit was ‘n verskriklike ondervinding. Hierdie is normaalweg ‘n rustige, landelike omgewing en Charles het hierdie hoewe donkiejare gelede gekoop. Ons was 53 jaar getroud en woon al 35 jaar hier. In die tien jaar wat ons die winkel bedryf, was daar net een voorval toe rowers deur die dak toegang tot die winkel probeer kry het,” het sy verslae vertel.

Groenewald snr is na die voorval ondersteun deur haar dogter Ralie jnr wat enkele minute na die aanval op die toneel was.

In haar moeder se afwesigheid, sy is hospitaal toe vir behandeling van haar keelbesering, het Ralie jnr. die mat in die slaapkamer probeer skoonmaak.

”Ons het ons bes probeer, maar kon nie al die bloed uitkry nie. Dit voel aardig om weer in die kamer te kom. Ons sal seker ‘n ander mat moet kry,” het sy vertel.

Met die besoek van Rekord is ‘n hoed van een van die rowers op die toneel gevind.

Die polisie se soektog na die tweede rower duur voort, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Groenewald word oorleef deur sy vrou, dogter Ralie Möller en twee seuns Nico en Charles.

Die begrafnisdiens vind op Donderdag 11:00 in die Hervormde Kerk Meyerspark plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button