CrimeNews

Bejaarde egpaar dood geskiet

'n Bejaarde egpaar is vanmiddag dood aangetref in hul huis.

‘n Bejaarde egpaar is Vrydag dood in ‘n skietery in hul huis op ‘n kleinhoewe by Mooiplaats, oos van Pretoria.

Die egpaar se seun het op die bebloede lyke van Louis Swanepoel (82) en sy vrou Sandra (80) afgekom.

Die besonderhede van die voorval is vaag, maar die polisie het bevestig Johan Swanepoel het omstreeks 12:30 dié gru-ontdekking gemaak. Swanepoel snr. is klaarblyklik in die slaapkamer dood terwyl mev. Swanepoel se lyk in die gang by die agterdeur gevind is.

Swanepoel jnr. het by sy ouers gebly maar het Vrydag vroeg die huis verlaat.

Volgens Kaptein Marissa van der Merwe, Boschkop polisiewoordvoerder, is die omstandighede rondom die voorval in dié stadium van die ondersoek vreemd. Daar moet nog bepaal word of enigiets uit die huis vermis word.

Van der Merwe het besvestig Swanepoel snr. is weens ‘n skietwond dood maar kon nie sê of mev. Swanepoel ook geskiet is nie.

‘n Bedroefde Swanepoel jnr. was laatmiddag nog te geskok gewees om met die media oor die voorval te praat. Hy het gesê daar was ‘n hegte verhouding tussen hom en sy ouers.

Die egpaar se huis is skaars ‘n kilometer vanaf die Boschkop polisiestasie geleë. Hulle het die afgelope 33 jaar in die huis gewoon.

Bennie Malan, ‘n polisiereservis, het gesê Swanepoel snr. was ’n merkwaardige man. “Op 80 het hy nog self sy motor onderhou en was altyd bereid om ander met herstelwerk te help.”

Mev. Swanepoel is ‘n afgetrede onderwyseres. “Sy was baie geliefd en het ons kinders opgepas wanneer ons met reservis-werk besig was,’’ het hy gesê.

Van der Merwe was vol lof vir die buurtwag en sekuriteitsmaatskapy van die omgewing. “Was dit nie vir hulle nie was ons verlore. Die skielike eskalasie van misdaad in die omgewing is ongewoon.”

Dit is die tweede voorval hierdie week waarin bejaardes van die omgewing op ‘n geweldadige wyse dood is.

Charles Groenewald is Maandag tydens ‘n rooftog in sy huis doodgeskiet. Hy het homself probeer verdedig en een van sy aanvallers – na bewering ‘n polisiereservis van KwaNdebele – doodgeskiet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button