
Beeldmateriaal wat wys hoe ’n verdagte helder oordag ’n perseel in Mountain View betree en ’n fiets steel het inwoners die herrie in.
“Ek kan nie glo dat die vent so arrogant is om helder oordag te doen wat hy gedoen het nie. Loop asof die plek aan hom behoort,” het Pieter Oosthuizen, die eienaar van die gesteelde fiets, gesê.
Die beeldmateriaal wat Dinsdag omstreeks 15:00 opgeneem is, wys hoe ’n verdagte moeiteloos oor ’n swart skuifhek klim, ’n fiets steel en verdwyn. Oosthuizen het ’n saak van diefstal by die Hercules-polisie gelê.
Die verdagte het ’n Chroom Raleigh BMX ter waarde van R800 met rooi en blou plakkers op die saal gesteel.
“My ma en my jongste seun was tydens die voorval by die huis. Gelukkig was hulle binne gewees. Ek beoog om nou verdere sekuriteitsmaatreëls aan te bring,” het hy gesê.
