CrimeNews

Man op plaas aangeval en geskiet

Die broer van ’n mev Suid-Afrika-finalis is Vrydagoggend op ’n plaas buite Pretoria aangeval.

’n 30-jarige man wat Vrydag in die vroeë oggendure in sy huis op ’n plaas in die verre ooste van Pretoria geskiet is, is in ’n stabiele toestand in die Kloof-hospitaal se intensiewe eenheid.

Gert van Dyk, broer van mev Suid-Afrika-finalis Drieka van Staden, is omtreeks 03:00 die oggend deur drie rowers geskiet.

Van Dyk was besig om televisie in sy huis op die plaas Kairos-huis oos van Pretoria te kyk toe hy ’n geluid by die skuifdeur gehoor het.

Van Staden het uit die hospitaal met Rekord gepraat oor die voorval.

“My broer het geskree en na die deur gestap. Drie rowers het by die glasskuifdeur gestaan en op hom geskiet. Die koeël het hom in sy linkersy getref. Hy het dadelik na sy vrou Andrea en driejarige dogtertjie Clarissa gehardloop om hulle te beskerm,” het Van Staden gesê.

Andrea, wat wakker geword het van haar man se gille, het na haar dogter se kamer gehardloop, haar uit die bed gegryp en op haar gaan lê.

“Ek het die hele tyd gebid vir ons veiligheid,” het Andrea gesê.

Van Dyk het in die gang op sy knieë gegaan en gebid dat sy familie beskerm word. “Dit is die Liewe Vader se hand wat oor my broer en sy gesin wag gehou het,” het Van Staden gesê.

Intussen het Van Staden se ander broer en ma uit onderskeidelik hul aangrensende huise op dieselfde plaas gestorm. Nog ’n skoot is op Van Dyk afgevuur, maar dié een het hom gemis. Die rowers het ook buite op Van Staden se ma geskiet. “Hulle het gelukkig nie my ma raakgeskiet nie, net haar voertuig,” het Van Staden gesê.

Die rowers het te voet gevlug met slegs Van Dyk se televisie en selfoon.

Die polisie van Cullinan is ontbied en Van Dyk se broer het blitsig met hom na die naaste hospitaal gejaag. Hy is later na die Kloof-hospitaal oopgeplaas waar hy om 13:00 geopereer is om die koeël onder sy linkernier te verwyder. Sy dunderm is ook op twee plekke beskadig.

Dit is egter nie die eerste keer dat die familie onder ’n aanval deurloop nie. Van Staden en haar gesin, wat op die kleinhoewes in Centurion woon, is al twee keer in hul huis aangeval, aangehou en beroof.

In 2006 is haar swaer Koos van Staden, ’n voormalige polisiebeampte by Wierdabrug-polisiestasie, in sy huis op Knoppieslaagte aangeval.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button