’n Tiener van Deerness is vreesbevange gelaat nadat ’n verdagte haar onlangs voor skool genader en gedreig het dat hy haar ‘sal kry’ nadat sy haar arm uit sy greep geruk het.
Die 15-jarige was oppad skool toe, toe die verdagte langs haar inval. Hy het verskeie persoonlike vrae gevra en haar aan die arm gevat en haar selfoonnommer gevra. Sy het los geruk en haar na die skool gehaas, maar hy het haar agtervolg.
“Voordat sy by die hek van die skool kon ingaan, het die verdagte haar gedreig en gesê dat hy haar sal kry,” het Luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisiestasie, gesê.
Die polisie versoek die gemeenskap om op die uitkyk vir die verdagte te wees. Indien enigiemand oor inligting beskik, moet hulle Adjudant-offisier Gina Brink by 012-353-5403 bel.
“Leerlinge word gereeld van hul selfone geroof en ons versoek hulle om waaksaam en oplettend te wees, vóór en ná skool. Ouers moet hul kinders aanmoedig om eerder in groepe te beweeg en om afgesonderde en stil paaie te vermy,” het Jerling gemaan.
Sy het gesê leerlinge moet paraat wees en nie loop en gesels op selfone, SMS of BBM nie. Selfone word baie maklik gesteel en dit maak hulle ’n teiken.
Sy waarsku inwoners om te waak teen alledaagse slenters wat daartoe kan lei dat hulle geld verloor.
Wees bedag op slenters soos kompetisies wat gewen is, oorhandiging van geld alvorens eiendom ontvang is, of oorhandiging van eiendom alvorens die bank die fondse geverifieër het.
Jerling moedig inwoners aan om ook al die relevante inligting van voornemende wekers te bekom voor hulle in diens geneem word.
“Moet onder geen omstandighede vreemdelinge in jou huis toelaat nie. As hulle die woning kom besigtig, wat byvoorbeeld te huur aangebied word, maak seker dat almal bymekaar bly en nie op hulle eie in kamers ronddwaal nie,” het sy gemaan.
