Tergende geheime om die Swanepoel moord
Polisie in die duister oor die motief van die Swanepoel egpaar moord
Die raaisel na die dood van die bejaarde egpaar, Louis Swanepoel (82) en sy vrou Sandra (80) wat Vrydagmiddag na ‘n skietvoorval omstreeks 12:30 in hul huis op ‘n kleinhoewe by Mooiplaats in die ooste van Pretoria, dood aangetref is, het verdiep nadat vasgestel is dat niks uit die huis vermis word nie.
Die egpaar se seun Johan Swanepoel, wat by sy ouers gebly het en sy vriendin het die oggend om 08:00 die huis vir besigheid in Pretoria verlaat. Toe hulle omstreeks 12:30 weer terugkeer het Swanepoel se vriendin na die kombuis gestap en die deur, wat nie gesluit was nie, oopgemaak en is Sandra Swanepoel op haar sy in die kombuisdeur se gang dood aangetref. Sy is in die kop geskiet en daar was bloed aan haar neus. Sy was in haar dagklere aangetref.
Swanepoel senior is dood in die slaapkamer aangetref. Hy was geklee in ‘n sweetpak. Aanvanklik het die polisie vermoed dat hy ook geskiet is, maar met verdere polisie ondersoek is geen skietwonde by hom aangetref, nie maar wel elektriese draad.
”Die omstandighede van die egpaar se dood is vreemd. Niks word uit die huis vermis nie en daar is nie tekens van inbraak nie. Daar is ook nie tekens van ‘n worsteling nie, want alles is op hul plek. Die egpaar was baie geheg aanmekaar en was by almal in die omgewing goed bevriend en bekend,” het kaptein Marisssa van der Merwe, Boschkop se polisiewoordvoerder gesê.
Die egpaar se seun Johan (44) was Vrydag na die dood van sy ouers ontdek is, erg geskok.
”Vanoggend toe ons die huis verlaat het, het ek nog ‘n familie gehad. Nou is daar niemand meer nie. daar was ‘n hegte verhouding tussen my en my ouers. Ek en my moeder het dinge gedeel soos byvoorbeeld die verskillende soorte rissies wat ons saam bymekaar gemaak en geplant het,’ het hy in trane vertel.
Sowat ’n jaar gelede het hy ook sy jonger broer, Stefan, verloor toe dié deur Louis Swanepoel in die slaapkamer van hul huis dood aangetref is. Johan Swanepoel wat in die buiteland werksaam was, het dadelik daarna na Suid-Afrika teruggekeer om sy ouers by te staan.
Johan het onmiddellik na die ontdekking van sy ouers se dood, die buurvrou, Ronel van Staden, gebel wat op haar beurt weer per radio die polisie gekontak het.
Kapt. Marissa van der Merwe, het gesê dat daar wel ‘n .22-vuurwapen in die huis gevind is en dit na die forensiese afdeling van die polisie gestuur is vir forensiese en ballistiese ontleding.
Die omgewing van Boschkop is geskok met die skielike vlaag van misdaad wat die gebied teister. Maandag is Charles Groenewald in sy huis doodgeskiet. Sy aanvaller, ‘n polisiereservis van Kwandebele, is ‘n ent laer in die pad wat voor die huis verbyloop dood aangetref. Dit het Vrydag na verdere polisie ondersoek aan die lig gekom dat hy ook verbind was met ‘n lang reeks ander misdade.
Bennie Malan, ‘n reservis van die Boschkop-polisie, het gesê dat hy die Swanepoel-egpaar goed geken het en hulle het die afgelope 33 jaar op hul kleinhoewe gebly.
Louis was ‘n merkwaardige man. Op 82-jarige ouderdom het hy sy motor nog self herstel en hy was altyd bereid om ander mense met herstelwerk te help. In die omgewing het hy al baie mense se grassnyers vir hulle reg te maak. Sandra was ‘n afgetrede onderwyser. Sy was baie saggeaard en gesond. Dit is slegs die laaste paar maande wat sy van ‘n seer nek of rug gekla het. As ons met reserviswerk besig was, het sy ons kinders opgepas. Oom Louis was nog baie aktief en hy het gereeld saam met ons buurtwag patrollie gery,” het hy gesê.
Kaptein van der Merwe was vol lof wat die buurtwag en sekuriteitsmaatskappye in die omgewing doen.
”Was dit nie vir hulle nie was ons verlore. Ons het ‘n goeie verhouding met die inwoners in die buurt en die skielike hoeveelheid misdaad wat nou voorkom, is vreemd vir die gebied.’’het sy gesê.
Lees ook>
Seun kom op ouers se bebloede lyke af
