Baba L saak Woensdag hervat
Die saak van poging tot moord en aanranding teen die ma van Baba L en haar kêrel word Woensdag hervat.

Die ma van Baba L en haar kêrel, wat aangekla word van poging tot moord en kindermishandeling, se saak word Woensdag in die Pretoria-Noord-landdroshof hervat.
Dit volg na Baba L se ma op 13 Februarie R10 000 borg toegestaan is, maar geen kontak met haar dogter mag hê nie. Die landdros het ook beveel dat Baba L se ma nie haar kind mag sien nie, tensy sy ‘n geskrewe aansoek by die kinderhof indien, aangesien sy ‘n getuie in die saak is.
Sy het ook bygevoeg dat dit duidelik is dat Baba L, wie se toestand aansienlik verbeter het sedert Desember, haar eie ma mis.
Baba L sterk tans by ‘n rehabilitasie-inrigting, wat nie bekendgemaak word nie, vir haar en haar familie se veiligheid aan.
Landdros Pierre Wessels het aan Baba L se ma gesê die hof beskou haar nie as ‘n gewelddadige persoon nie en dat dit lyk asof al die vingers na haar kêrel wys.
Volgens die landdros kan hy ook nie die verklaring, wat deur die man se suster in die hof gelees is en waar sy beweer haar broer gesê het hy sal vlug, ignoreer nie.
Die man se borgaansoek is twee keer teengestaan en hy sal tot die verhoor in aanhouding bly.
Die paartjie staan tereg op aanklagtes van poging tot moord en kindermishandeling. Die man beweer Baba L het verskeie beserings in Desember opgedoen, insluitend gekneusde organe en bloeding op die brein, nadat sy in Desember van ‘n wasmasjien afgeval het. Volgens Baba L se pa, het Baba L permanente breinskade na die ongeluk opgedoen.
