Die moorde van Charlie Groenewald (76) en Louis Swanepoel (82) en sy vrou Sandra in die afgeleë kleinhoewes van Boschkop in die ooste van Pretoria, het opnuut die soeklig op die polisie se rol in landelike beveiliging geplaas.
Die gebied is in die jongste tyd ook verder geteister met twee ander afsonderlike rooftogte wat ook in die gebied plaasgevind het en waarin een van die slagoffers se hande en voete vasgebind is na hy eers wreed aangerand is.
Die skielike vlaag van misdaad het skokgolwe deur die landelike gemeenskap gestuur en op die weerlose kwesbaarheid van bejaardes op kleinhoewes en plase gewys.
AfriForum het ‘n dringende versoek na brigadier WB Kweyama, die SAPD se gebiedscluster bevelvoerder, gestuur om te verneem wat die polisie se planne is om die gebied te beveilig.
“Brigadier Kweyama moes terugvoering gee oor die toekomsplanne vir landelike veiligheid, maar dit het nie gerealiseer nie. Die polisie is afwesig, leierskap bestaan nie en die polisiebeamptes op grondvlak kan nie sonder die nodige hulpmiddels en leierskap doeltreffende polisiëring toepas nie,” het Cameron, die burgerregte-organisasie se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
Cameron het opnuut ’n beroep op gemeenskappe, veral dié in plattelandse gebiede, gedoen om hulleself te beveilig en die burgerregte-organisasie te nader om buurtwagte te help vestig. “Selfbeveiliging is die enigste doeltreffende wyse waarop Suid-Afrikaners hul veiligheid kan verseker. Dit is ’n jammerte dat die regering versuim om hierdie lewensnoodsaaklike plig na te kom,” het hy gesê.
Volgens Cameron was dit bende-aktiwiteite in dié omgewing wat in die jongste tyd verantwoordelik was vir die moord- en rooftogte in die gebied.
AfriForum het ná Das Venter se moord in Maart 2014, distrik Cullinan, ‘n optog na die Cullinan-polisiestasie gehou. Daar is nog geen plan van aksie op die tafel gesit nie.
